Gé Korsten se nalatenskap by Monument gevier
Gé Korsten word beskou as een van Suid-Afrika se grootste kunstenaars ooit.
Nagenoeg 1 000 musiekliefhebbers, gesinne en kultuurgeesdriftiges het Saterdag 27 Junie
op die trappe van die Voortrekkermonument byeengekom vir ’n
huldeblykkonsert aan die musieklegende Gé Korsten.
Dit was die laaste keer wat dié unieke Lefra-produksie onder regie van Frans Swart, Gé
Sing: Hoor My Lied!, te sien was. Die geleentheid, wat in samewerking met die FAK en die
Voortrekkermonument aangebied is, was ’n musikale reis propvol nostalgie wat die gehoor
herinner het aan die ryk nalatenskap van Korsten se lewe en loopbaan.
Met behulp van oudiovisuele argiefmateriaal, indrukwekkende visuele projeksies en ’n orkes
onder leiding van musiekregisseur Chanie Jonker, is Korsten se woorde en wysies opnuut
tot lewe gebring. André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt en Stephanie Baartman
het liedere uit Korsten se omvangryke repertoire met passie en respek vertolk.
Die daglange kultuurfees het reeds die oggend momentum opgebou met kos- en
kultuurmarkstalletjies, asook vermaak vir die hele gesin. Kinders het die gewilde Liewe
Heksie en die Tuindwergie geniet, terwyl Francois van Rensburg, Ruan Josh en Mari
Bosman die gehoor deur die dag vermaak het.
Gé Korsten word beskou as een van Suid-Afrika se grootste kunstenaars ooit. As
internasionaal erkende tenoor, gewilde sanger, televisiepersoonlikheid en akteur het hy oor
dekades heen ’n onuitwisbare indruk op die land se kultuurlewe gemaak. Sy stem het
generasies Suid-Afrikaners begeester met 69 albums en treffers soos “Hoor my lied”,
“Liefling”, Sing, seeman, sing”, “Ek kyk graag so diep in jou oë” en talle ander liedere wat
vandag steeds geliefd is.
Benewens sy sukses in ligte musiek het Korsten ’n indrukwekkende operaloopbaan gehad.
Sy vermoë om ewe gemaklik tussen opera en gewilde musiek te beweeg, het hom ’n unieke
plek in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis besorg. Hy het hoofrolle in meer as 35
operas, operettes en musiekblyspele vertolk, insluitend Madame Butterfly, Faust, La
Traviata en Die Towerfluit.

Voortrekkermonument in die agtergrond. (Foto: Niël Langner)
Korsten het ook sy buiging op die silwerskerm en televisie gemaak. Hy het onder meer die
hoofrol vertolk in die ikoniese rolprent Hoor my lied saam met Min Shaw, wat een van die
gewildste Afrikaanse rolprente van sy tyd geword het. In Egoli het hy gedurende die jare
negentig in nie minder nie as 780 episodes die rol van Walt Vorster vertolk.

“Vandag was veel meer as ’n konsert,” sê Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van
taal, kuns en musiek. “Dit was ’n viering van ’n man wat ’n onuitwisbare bydrae tot ons
musiek- en kultuurerfenis gemaak het. Om hierdie huldeblyk op die trappe van die
Voortrekkermonument aan te bied, het die geleentheid soveel te meer besonders gemaak.”
Volgens De Jager gebruik mense vandag maklik die term “ikoon”. “Die feit dat Gé se musiek
dekades ná sy tragiese dood in 1999 steeds onthou, gesing en gevier word, maak van hom
’n ware ikoon; iemand wat steeds mense byeenbring deur musiek, herinneringe en gedeelde
waardes.”
Gedurende sy loopbaan het Korsten talle toekennings ontvang, insluitend 24 goue en 6
platinumtoekennings, ses Sarie-toekennings, asook verskeie internasionale eerbewyse.
Korsten se nalatenskap leef ook voort by die Voortrekkermonument, waar hy in die FAK-
Liedjietuin met ’n bord vir “Sing, seeman, sing” en ’n borsbeeld onthou word.
Die bekende musiekpublisiteitsbeampte Lydia Winchester is Saterdag tydens die
huldeblykkonsert deur Lefra Produksies met ’n lewensbydraetoekenning vereer vir haar
loopbaan van meer as vier dekades. Die toekenning aan Winchester sluit ’n skildery, Sy het
hulle ’n stem gegee, deur die kunstenaar Hannelie Swart in.
Volgens Swart is die kunswerk ’n viering van Winchester se merkwaardige bydrae tot die
Afrikaanse musiekbedryf. “Haar nalatenskap lê nie slegs in haar eie prestasies nie, maar
veral in haar vermoë om ander raak te sien, te ontwikkel en te inspireer. Sy was ’n mentor,
talentontwikkelaar en stille dryfkrag agter talle kunstenaars se suksesverhale.”



