Meer as 100 onwettige immigrante reeds in NW gearresteer
Die onwettige immigrante wat by Vorstershoop oor die naweek gearresteer is, is steeds in aanhouding.
In die Noordwes-provinsie is daar alreeds 125 onwettige immigrante gearresteer in verskeie operasies in aanloop tot die March and March optogte wat vandag landwyd gesien is.
Hiervan was 49 in Rusterburg gearresteer, 52 in Tlhabane en 23 in die Vorstershoop-omgewing.
Die 23 onwettige immigrante wat Saterdag 27 Junie in die Vorstershoop-gebied gearresteer is, is steeds in aanhouding en sal weer op 3, 10 en 16 Julie onderskeidelik voor die hof verskyn. ‘n Man in wie se diens die 23 immigrante oënskynlik was en wie vir ‘n private wildreservaat maatskappy in die Vrystaat werk, is ook met die inhegtenisname ‘n skulderkenningsboete van R230 000 opgelê.
Kolonel Anne Magakoe sê die ongedokumenteerde immigrante in Vorstershoop is gearresteer tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie waartydens ‘n wit Isuzu-vragmotor en ‘n wit Toyota Land Cruiser enkelkajuit op die R379-grondpad voorgekeer is. Verskeie van die insittendes het na nabygeleë plase gevlug. Hulle het later vrywillig teruggekeer sodat hul dokumentasie geverifieer kon word. Verdere ondersoeke, wat in samewerking met Departement van Binnelandse Sake in Ganyesa gedoen is, het bevestig dat hul dokumentasie verval het. of ongeldig was. Hulle is tussen 21 en 49 jaar oud.
- Die polisie in Noordwes het vanoggend bevestig dat die werkgewer van die onwettige immigrante van Vorstershoop nie ‘n boer was soos wat in die oorspronlike polisieverklaring gesê is nie.



