Avontuur wag in die strate van Parys
Die boek sal vanaf Julie by uitgesoekte boekwinkels en aanlyn beskikbaar wees.
Aan die oewer van die Vaalrivier in die Vrystaatse dorpie Parys, leef stories wat jou tone gaan laat krul en jou nie sal kan laat wag vir die volgende avontuur van Pote Venter en sy vier maats. Daar’s Die heks in Boomstraat en die raaisel van die katte wat verdwyn, Die spookhuis in Johannastraat.
Op papier laat skrywer Lourens Janse van Rensburg elkeen van die karakters in sy splinternuwe jeugboekreeks leef. Dit is avonture vol kinderwaagmoed, hope humor en boonop in ‘n eg Suid-Afrikaanse konteks waarmee kinders kan assosieer.

Die boekreeks is gebore uit Lourens se wens om die stories van Parys vir sy kleinseun, die driejarige Juan-Lou Venter, wat sedert die begin van die jaar saam met sy ouers in Australië bly, te kan vertel.
Toe begin hy skryf. “Soos die storie lyf gekry het, het Juan-Lou die hoofkarakter geword wat saam met sy maats elke raaisel uitpluis,” vertel dié trotse oupa. En soos klein Juan-Lou, hou die hoofkarakter ook nie van skoene dra nie.
Eintlik was dit Lourens se vrou, Tania, wat hom aangemoedig het om die stories in boekvorm te sit. So het dit gekom dat Lourens Pote Venter en sy maats se storie aan Naledi Uitgewers gestuur het. Groot was sy verbasing toe die manuskrip aanvaar is, gesels Lourens.
Hoewel hy al voorheen sy hand aan lirieke gewaag het, is hierdie sy eerste boek wat vanaf Julie by uitgesoekte boekwinkels en aanlyn beskikbaar sal wees- die ideale geskenk vir jong lesertjies nege tot 12 jaar.
Die boek sal ook binnekort by Red Rose Boekwinkel by Cherry Square in Parys bekendgestel word. Die datum sal deur Red Rose bekendgemaak word.
In elkeen van Lourens se stories is ‘n lewensles ingeweef, danksy Lourens se agtergrond in leierskap, lewensafrigting en veranderingsbestuur waarmee hy ‘n nuwe perspektief gee in sy skyfwerk, gekombineer met ‘n goeie dosis kreatiwiteit en insig in mense.
Lourens is die afgelope 20 jaar in Parys gevestig en lê die dorp hom na aan die hart. Dit is Parys se stories en staaltjies wat ‘n glinster in die 54-jarige Lourens se oog sit, en wat hy deur die oë van die jong Pote Venter en sy maats laat leef op bladsye vol avontuur.
Parysenaars is welkom om vir Lourens staaltjies of stories, kommentaar op die boek, of selfs bestellings vir die boek te WhatsApp na 079 673 0630.




