Local newsNews

Lewende hawe terug by Nampo Alfa

Die volledige program en verdere besonderhede sal binnekort op www.nampoalfa.com beskikbaar wees.

Veeboere, telers, landbouers en rolspelers in die landboubedryf kan uitsien na die terugkeer van lewende hawe by vanjaar se Nampo Alfa wat op 2 en 3 Oktober op Nampo Park gehou word.

Nampo Alfa is die eerste geleentheid in 2026 wat aankondig dat lewendehawe by die geleentheid uitgestal sal word. Produsente, telers en landbouers kan dus uitsien om diere by hierdie  geleentheid te sien  en deel te neem aan die verskillende projekte wat by Nampo Alfa aangebied word.

Dié aankondiging wat vandag gemaak is, is veral belangrik vir telers en uitstallers, aangesien die voorbereiding van skoudiere maande se voorbereiding verg.

Nampo Alfa, Suid-Afrika se voorste platform vir lewende hawe, jag, buitelewe en landbouvaardighede, het die afgelope paar jaar, soos talle ander landbougeleenthede, onder die impak van Covid-19 en bek-en-klouseer-uitbrekings gebuk gegaan.

Die uitstalling van gesplete hoefdiere by landbougeleenthede is gevolglik ernstig beperk.

Toepaslike biosekuriteitsmaatreëls en protokol sal egter steeds geld by Nampo Alfa.
Volgens dr. Danie Odendaal, wat in 2018 die eerste biosekuriteitsprotokol vir lewendehawegeleenthede opgestel het, maak verbeterde toegang tot entstof en die vordering met inentings dit moontlik om verantwoordelik vorentoe te beweeg.

“Die beginsel bly dat slegs diere wat aan die toepaslike gesondheids- en biosekuriteitsvereistes voldoen, by die geleentheid toegelaat sal word. Die doel is om deelname moontlik te maak, maar steeds die veiligheid van diere en die groter bedryf voorop te stel,” sê Odendaal.

Dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, benadruk dat die besluit met groot verantwoordelikheid geneem word.

“Die veiligheid van diere, uitstallers en besoekers bly vir ons ’n prioriteit. Nampo Alfa is ’n belangrike platform vir die lewendehawebedryf, maar dit moet op ’n verantwoordelike wyse aangebied word. Daarom sal normale biosekuriteitsmaatreëls steeds streng toegepas word, en verdere besonderhede oor die protokol sal met deelnemers gedeel word namate dit gefinaliseer word,” sê Strydom.

Volgens Lizette Vermaak, mede-organiseerder van die veeprogram by NAMPO ALFA, beteken die aankondiging dat genootskappe en telers nou met groter sekerheid kan begin beplan.

Albert Loubser voeg by dat besoekers kan uitsien na ’n omvattende lewendehaweprogram wat verskeie hoogtepunte insluit.

Die program sal onder meer die Old Mutual Nasionale Interras Kampioenskappe, die Nasionale Interras Vereniging se program, die Voermol Mega-os, asook die lewendehawe-afdeling van die Farm Skills Nasionale Landbouskoleprogram insluit. Daar word ook beplan vir ’n opwindende kleinvee- en grootveeprogram, rasbekendstellings aan boere en beoordelaars, asook ’n kudde-evaluering deur Pikkie Uys.

Benewens die lewendehaweprogram sal Nampo Alfa vanjaar ook ’n wyer gesins- en landbouprogram aanbied, waaronder ’n Afrikaanse musiekfees, Afrikaans @ NAMPO ALFA, kampgeleenthede vir besoekers, en Landbouweekblad se Vir die Boer-program. Die Sondag ná Nampo Alfa word daar ook ’n biddag en gospelfees op die terrein beplan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button