Chris van Niekerk skoolmaats vier saam 40 jaar
Vriendinne deel skoolherinneringe van Chris van Niekerk.
Drie klasmaats wat al sedert hul hoërskooldae by Chris van Niekerk skool op Vredefort vriendinne was, het die voorreg gehad om saam in Nederland te kon kuier. Melanie Luus (Vermaak), Rita-Marie Fourie (Greeff) en Willemijn de Kock (Wentink) het met die Nederland-kuier saam-saam hul 40ste verjaarsdae gevier.
Melanie is van Richardsbaaie, Rita-Marie van die Lindley-distrik, en Willemijn van Duiven, Nederland.
Die drie het ‘n bustoer na Oos-Europa onderneem en onder meer in Tsjeggië (Praag) en Slowakye (Bratislawa) aangedoen.

Hulle het heelwat katedrale en kastele besoek, en die natuurskoon van die woude geniet. ‘n Unieke manier om vriendskap te geniet en te vier.
Die drie maats vertel dat Hoërskool Chris van Niekerk vir hulle die fondasie gelê het vir wie hulle vandag is. “Omdat dit so ‘n klein skool was, was jy nie net ‘n nommer nie. Die skool het menige uitblinkers opgelewer wat vandag hul skoene regoor die wêreld volstaan,” vertel hulle.
“Ons het saam netbal gespeel, in die Suikerbekkie-koor gesing, deelgeneem aan kunswedstryde in Kroonstad en Sasolburg, en modeparade gehou met uitrustings wat ons self in juffrou Pula van Niekerk se naaldwerkklas gemaak het.”

“Ons het menigmaal op die skoolsaal se verhoog verskyn met musiekitems wat ons band nog hegter gemaak het. Juffrou Erna Rademan was ‘n formidabele musiekjuffrou en is nou nog deel van ons lewens. Skoolkonserte (afgerig deur juffrou Nanza de Kock) was ook altyd ‘n hoogtepunt,” onthou die driemanskap.
“Ons kyk met dankbare harte terug op ‘n wonderlike, sorgvrye kindertyd in Vredefort.”





