Local newsNews

Vrystaatse eiendomsmaatskappy direkteur en agent gevonnis vir miljoene se bedrog

Kopers moes geld vir die aankoop van die eiendomme in die direkteur se bankrekening deponeer, waarna die eiendomstransaksies nie afgehandel is nie.

Geregtigheid het uiteindelik vandeesweek geseëvier vir slagoffers van eiendomsbedrog wat na raming R27m beloop het, toe gevangenisstraf deur die Bethlehemse streefhof aan Peters Wilhelmus Viljoen, direkteur van Blue Key Properties, en ‘n eiendomsagent, Samuel Kamolase Mofokeng, opgelê is.

Die hof het die 52-jarige Viljoen, gevonnis tot 20 jaar gevangenisstraf op verskeie aanklagte van bedrog. Hy het ook ses jaar gevangenisstraf gekry vir die oortreding van die Wet op Eiendomspraktisyns. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Gevangenisstraf van 18 jaar is vir die 48-jarige Mofokeng (48), opgelê vir verskeie aanklagte van bedrog. Hy is ook tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis vir die oortreding van die Wet op Eiendomspraktisyns. Ook dié vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

In die hof is getuig dat die beskuldigdes tussen 2014 en 2025 residensiële eiendomme wat te koop was, geadverteer het, en die besigtigings en koopaanbod van voornemende kopers vir die eiendomme gefasiliteer het.

Volgens getuienis is kopers daarna opdrag gegee om die geld vir die aankoop van die eiendomme in die direkteur se bankrekening te deponeer.

Desondanks die ontvangs van die betalings, is die eiendomstransaksies nooit afgehandel nie. Dit het daartoe gelei dat beide kopers en verkopers benadeel is, terwyl die geld na bewering vir persoonlike voordeel wanbestee is.

Blue Key Properties Brokers is op verskeie aanklagte van bedrog skuldig bevind en tot ’n R3 miljoen-boete, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis.

Die opgeskorte boete is op voorwaarde dat die maatskappy nie gedurende die opskortingstydperk aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.

Die waarnemende provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) in die Vrystaat, brigadier Paulus Mbongo, het die vonnisoplegging verwelkom.. Hy het die ondersoekspan geloof vir die werk wat gedoen is om diegene wat by die bedrog betrokke was, voor die hof te kon bring.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button