parkrun tooi weer pers om vroue te vier
parkrun het 'n landwye inisiatief om gedurende Augustus in pers aan parkruns deel te neem om vroue te vier.
Met Vrouedag wat die naweek gevier word, het parkrunners by die Egweni River Lodge parkrun weer vanoggend pers getooi as deel van ‘n landwye parkrun-inisiatief om vroue gedurende Augustus te vier.
In die parkrun-gemeenskap is talle vroue betrokke – hetsy as deelnemers, vrywilligers of leiers – vroue wat elke week help om dié gewilde gemeenskapsgeleentheid moontlik te maak.
Geklee in pers het talle entoesiastiese deelnemers aan die Egweni River Lodge-parkrun alreeds verlede Saterdag deelgeneem aan die vroue maand-viering.

Of dit pers sokkies, ‘n pers das, ‘n tutu of enige ander pers bykomstigheid is – kom neem deel
aan die Egweni River Lodge parkrun elke Saterdag om 08:00.
Dit is oop vir almal – ongeag ouderdom of fiksheidsvlak en boonop gratis.
Deelnemers kan stap, draf, hardloop of as vrywilligers diens doen. Hetsy dit as gesin is, met ‘n stootwaentjie of met een hond aan ‘n leiband – jy is welkom. Die skilderagtige 5 km-roete
van die Egweni River Lodge parkrun neem deelnemers al langs die Vaalrivieroewer.



