Padskraper staan glo vir maande terwyl provinsie se paaie verbrokkel
Vrystaat Landbou het die Vrystaat-provinsie se paaie departement gekritiseer vir swak bestuur en benutting van provinsiale hulpbronne.
’n Padskraper wat aan die Staatsmotorhawe behoort staan na bewering nou reeds meer as nege maande langs die pad naby Vanstadensrus in die Suid-Vrystaat. Vrystaat së Vrystaat Landbou (VL).
Volgens Francois Wilken, president van VL, is die kwessie by herhaling via die amptelike WhatsApp-kanaal vir die Xhariep-distrik aangemeld, sonder enige sigbare oplossing.
Wilken sê daar is oënskynlik nie fondse om die diensverskaffer te betaal wat op die Sentrale Databasis vir
Diensverskaffers geregistreer is nie. Hy sê ‘n plaaslike privaatfirma het
aangebied om die padskraper op hul laebedwa te laai en dit teen die helfte van die koste te vervoer vir herstelwerk, maar dat toestemming nie van die departement gekry kan word nie.
Vrystaatse Landbou het die provinsie se paaie departement gekritiseer vir swak bestuur en benutting van provinsiale padinstandhoudingshulpbronne en sê boere moet dikwels self noodgedwonge paaie gelykmaak om produkte by die mark te kry, werkers te vervoer, verseker dat noodsaaklike dienste toegang tot landelike gemeenskappe kry en kinders toegang tot skole het, terwyl staatstoerusting soos die padskraper vir maande in onbruik langs die pad.

Die kwessie van infrastruktuurverval en die onvermoë van die staat om basiese instandhouding
volhoubaar te bestuur, was ook onlangs tydens VL se kongres onder die soeklig.
Piet le Roux van Sakeliga, wat tydens die VL-kongres oor die infrastruktuuruitdagings gepraat
het, het daarop gewys dat dit toenemend ’n werklikheid geword het dat gemeenskappe en die
privaat sektor nie bloot meer kan aanvaar dat die staat basiese infrastruktuurdienste doeltreffend
sal lewer nie.
Volgens dr Jack Armour, Kommersële bestuurder van VL, het die organisasie telkemale ’n
beroep op die staat gedoen om openbare-private vennootskappe te oorweeg as ’n praktiese
oplossing vir die provinsie se infrastruktuuruitdagings.
Wilken sê instandhouding van provinsiale paaie is nie boere se verantwoordelikheid nie. Hy sê ook daar kan nie verwag word dat boere voortdurend staatsverantwoordelikhede oorneem en uit eie sak finansieer nie.
VL se standpunt is dat indien boere noodgedwonge staatsverantwoordelikhede oorneem en
padinstandhoudingswerk verrig, hulle billik en mededingend vergoed moet word vir werk wat
volgens die vereiste standaarde en ingenieurspesifikasies uitgevoer word.
Die organisasie sê hy sal voortgaan om die provinsiale regering tot verantwoording te roep oor sy
verantwoordelikheid om paaie behoorlik te onderhou, begrotings vir dié doel aan te wend en te
verseker dat die nodige hulpbronne en personeel beskikbaar is om dié mandaat uit te voer.



