Minibus wat Khat-plante vervoer nou staat s’n
Die voertuig is in 2025 in Welkom gekonfiskeer.
Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het gelas dat ’n Toyota Quantum minibus wat gebruik is om dwelms te vervoer, aan die staat verbeur word.
Die bevel volg op ‘n ondersoek deur die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Bateverbeuringseenhede.
Polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli sê die voertuig, met ’n geraamde waarde van sowat R300 000, is op 14 Januarie 2025 in Welkom teruggevind nadat lede van die SAPD se Teen Bende-eenheid dit afgetrek en deursoek het. Verskeie khat-plante is tydens die deursoeking gekonfiskeer.
’n 33-jarige man is daarna in hegtenis geneem. Die strafsaak teen hom is egter later van die hofrol geskrap. ’n Afsonderlike bate-ondersoek is daarna na die Valke verwys.
Die Vrystaatse hoof van die Valke, brigadier-generaal Mokgadi Bokaba, het die hofbevel verwelkom.



