Pas bekend: Haakplek uitgesorteer vir voorafbetaalde kragaankope
Verlengde kantoorure geld steeds by die Ngwathe munisipale kantore totdat alle probleme met voorafbetaalde elektrisiteit aankope uitgesorteer is.
Daar is pas met die diensverskaffer bevestig dat Ngwathe-inwoners weer op die FNB aanlyn banktoepassing voorafbetaalde elektrisiteit kan koop nadat die haakplek wat verbruikers tot nou toe verhinder het om kragkoepons te kon koop uitgesorteer is. Die probleem het ontstaan nadat die munisipaliteit op 7 Augustus na ‘n ander diensverskaffer migreer het.
Verskeie gebruikers in Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies het sedertdien rapporteer dat hul steeds nie op Absa en FNB se aanlyn banktoepassings voorafbetaalde elektrisiteit kon koop nie. Gazette het die kwessie onder die munisipale bestuur sowel as die diensverskaffer, MLB Smart Solution se aandag gebring.
Die aanduiding is dat Absa na verwagting ook weer vanaf 4 September Ngwathe-verbruikers sal toelaat om voorafbetaalde kragkoepons op sy aanlyn banktoepassing te koop.
Voorafbetaalde krag kan ook reeds op ander aanlyn banktoepassings soos Capitec en Tyme Bank gekoop word, asook by die munisipale kantore en eksterne verkooppunte soos by vulstasies wat voorheen die diens gelewer het, het Bungani Radebe, Ngwathe se bestuurder: Inkomste, sowel as die diensverskaffer gesê.
Radebe het ook bevestig dat mense wat probleme met voorafbetaalde elektritsiteitsaankope ondervind, steeds gebruik kan maak van die munisipaliteit se verlengde ure wat ook oor naweke geld.
Die munisipale kantore is op weeksdae daagliks oop tot 18:00 en oor naweke van 09:00-16:00.
As jy steeds probleme met voorafbetaalde elektrisiteit aankope ondervind, onthou om jou meternommer saam te neem wanneer jy na die munisipale kantore gaan.



