Local newsNews

Doeltreffende enting sal toekoms van BEK-stryd bepaal

Vee-eienaars wat nog nie geregistreer het vir entstof, of sukkel met registrasie kan op 24 September vanaf 09:00 'n Boere Inligtingsdag gratis by die AfriDome bywoon

Parys Dierehospitaal het verlede week van die eerste private veeartspraktyke in die land geword waar entstof teen bek-en-klouseer (BEK) vir boere, wie geregistreer en goedgekeur is om self hul beeste te kan ent, beskikbaar is. Die eerste 7 000 dosisse entstof is Donderdag aan die praktyk oorhandig.


Volgens die Dierehospitaal se dokter, Bastiaan Fouché, bly naspeurbaarheid egter ‘n belangrike deel van die entingsproses, en moet boere seker maak dat hulle vooraf aanlyn registreer vir entstof.

Die twee kanale waar registrasie en goedkeuring gekry kan word is Buffalo Analytics, wat hoofsaaklik die Turkse enstof Dollvet Aftodoll versprei, en RMIS (Red Meat Industry Services), wat hoofsaaklik die Argentynse Biogénesis Bagó versprei. Veeartse is die hoof verspreidingspunt van entstof na boere, en vervul ‘n belangrike rol in die administrasie van aansoeke vir beide kanale.

Van staatsinenting na private enting

Van die begin van die uitbreek van BEK waar die staat verantwoordelik was vir die beheer van die hoogs aansteeklike virale siekte onder vee met gesplete hoewe, was dit duidelik dat die Departement van Landbou nie die nodige kapasiteit gehad het om die krisis effektief te kon aanspreek nie. Verskeie
aanpassings is sedertdien in die benadering vir die beheer van die siekte gemaak, spesifiek vir die
bemagtiging van wie entstof kan toedien.

Die eerste deurbraak was toe private veeartse tussen Februarie en Junie vanjaar toegelaat is om die
entstof by die staat te kon bekom vir toediening op goedgekeurde plase.

Daarna het die goedkeuring gevolg vir boere om self ook die entstof te kon toedien, nadat Sakeliga, SAAI
en Vrystaat Landbou regsaksie teen die regering geneem het. Na die hofbeslissing in die guns van die organisasies, het ‘n twee maande lange proses gevolg voordat die enstof uiteindelik in Augustus vir private toediening beskikbaar gestel is.


Meer effektiewe beheer en naspeurbaarheid


Die goedkeuring vir boere om self te kan ent, sal nie net die beheer van die siekte aansienlik versnel nie, maar verbeter ook naspeurbaarheid van individuele diere wat uiters belangrik is om op wêreldstandaard in die dierverwante landboubedryf te kan meeding, meen dokter Bastiaan. Die grootste nadeel van die uitkoms van die hofbeslissing is egter dat die kostelas van enting van die staat na die boer se rekening geskuif het. Hierdie kostelas kan beteken dat nie alle boere die entings sal kan bekostig nie, of eenvoudig sal weier om te ent.


Die koste per dosis entstof beloop tans R46. Wat belangrik is, is dat op die produk self, daar egter geen middelmankoste tussen die verskaffer en die veeartspraktyk is nie.


Enting aanbevelings


Waar die staat se aanvanklike benadering was om binne ses maande na eerste enting, skraagdosisse toe te dien, word die vervaardiger se aanbeveling by private enting nou gevolg. Gevolglik sal daar met normale entkursusse vanaf die eerste dosis, so gou moontlik ‘n skraagdosis binne een tot vier maande gegee word, en vandaar jaarlikse enting wat inval by boere se normale entingsprogramme, het dr. Bastiaan verduidelik.

Dokter Bastiaan Fouché van Parys Dierehospitaal. Foto verskaf deur Dunevax Biotech.
Dokter Bastiaan Fouché van Parys Dierehospitaal. Foto verskaf deur Dunevax Biotech.

Die entstof is binne sewe tot 10 dae beskikbaar vir boere wat geregistreer en goedgekeur is op die Buffalo Analytics, of RMIS platforms.

Die entstof sal egter net beskikbaar gestel word by die praktyk mits die volle rekening van die verskaffer eers vereffen is.


Wat is die situasie met BEK in die Vrystaat


Bek-en-klouseer gevalle word steeds in die Vrystaat aangemeld wat een van die land se grootste veeprovinsies is. “In die Parys/Vredefort-distrik word maandeliks gevalle by veral vorige besmette plase gesien wat die risiko van draerkoeie en draerkallers bevestig,” sê dokter Bastiaan.


Hierdie diere se risiko is dat hulle ander diere aansteek as die kudde immuniteit val. “Wat ons weet van BEK wat baie met Knopvelsiekte vergelyk kan word, is dat natuurlike immuniteit swak is. Dit is bewys as jy kyk hoe vinnig die siekte terugkom, en dui op die belangrikheid van enting om immuniteit te verleng, waarsku dokter Bastiaan.

Ongelukkig is daar met enting nog nie 60% van die veepopulasie in Suid-Afrika bereik nie, en sluit die syfer ook net beeste in.


Hoe lank moet vee-eienaars ent teen BEK?


Die konsep is om immuniteit te verleng langer as die potensiële draertydperk van ‘n bees wat tot drie jaar by koeie is. “Dit is belangrik om minstens drie jaar doeltreffende enststof toe te dien in minstens 70% van die veepopulasie,” sê dokter Bastiaan.

Hy voorspel dat dit minstens 15 jaar kan duur voordat die land weer ‘n BEK-vrye status sal hê, maar dat dit afhang van hoe doeltreffend daar per streek/gebied geënt word.

Parys Dierehospitaal is een van die eerste private veeartspraktyke in die land waar entstof teen bek-en-klouseer nou beskikbaar is vir boere wat geregistreer en goedgekeur is om self te kan ent. Foto verskaf deur Dunevax Biotech.
Parys Dierehospitaal is een van die eerste private veeartspraktyke in die land waar entstof teen bek-en-klouseer nou beskikbaar is vir boere wat geregistreer en goedgekeur is om self te kan ent. Foto verskaf deur Dunevax Biotech.


Hulp met registrasie


Vee-eienaars wat nog nie geregistreer het vir entstof, of sukkel met registrasie kan op 24 September vanaf 09:00 ‘n Boere Inligtingsdag gratis by die AfriDome bywoon waar die stelsel verduidelik, en ‘n praktiese sessie aangebied sal word met hulp vir registrasie.


Bring jou selfoon of skootrekenaar, of maak gebruik van die opgestelde rekenaars wat beskikbaar sal wees om te registreer. Enigeen is welkom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button