Local newsNews

Villa Riviera gemeenskapsaal: Stylvolle ruimte, welkome tuiste en ontmoetingsplek

Hierdie ontwikkeling is 'n ontwikkeling waarop elke inwoner van Villa Riviera, maar ook Parys trots kan wees.

Die stylvolle opening van die Villa Riviera gemeenskapsaal was ‘n omarming van die elegansie van hierdie spogfasiliteit wat veel meer as ‘n ruimte in dié gebou met sy ryk geskiedenis is.

In hierdie gebou wat eens Parys se bekende Riviera-hotel was, is ‘n tuiste geskep – ‘n ontmoetingsplek, waar die karakter van die prag historiese gebou behoue gebly, en vernuwe is in ‘n ontwikkeling waarop die inwoners van Villa Riviera trots kan wees.


Volgens Guillaume de Swardt, voorsitter van Villa Riviera se Raad van Trustees, het die hoofgebou aanvanklik aan Villa Riviera behoort maar later in private besit gekom voordat dit uiteindelik onder likwidasie geplaas is.


Net meer as ‘n jaar gelede is daar tydens ‘n algemene jaarvergadering saam met die nuwe gebou-eienaar, Hugo Euvrard, ‘n besluit geneem om die gemeenskaplike trap- en ganggedeeltes van die hoofgebou wat die grootste van die 105 eenhede by Villa Riviera is, saam met die gemeenskapsaal en 12 private wooneenhede te ontwikkel.


Die 18 maande projek het uiteindelik gestalte gegee aan ‘n eindproduk wat die kunskarakter van Parys as dorp weerspieël in die aandag wat aan detail gegee is nie net met die dekor in die gemeenskapsaal nie, maar ook in die uitleg en ontwikkeling van die private eenhede.


Die karakter van die hoofgebou wat in 1940 as hotel gebou is, is spesifiek behou om weg te beweeg van ‘n aftreeoord-gevoel, maar eerder eenhede waar mense in die goue jare van hul lewens, ‘n verwelkomende en moderne tuiste sal vind met ruim kamers en badkamerspasie waar selfs voorsiening gemaak is vir groot storte en die nodige handreëlings waar mense ondersteuning kan kry sou dit benodig word, asook gerieflike kombuisspasie.


Volgens Hugo was hierdie ontwikkeling ‘n wonderlike uitdaging en lê die oord hom na aan die hart met sy ma wat ook by Villa Riviera gevestig is.


“Met hierdie ontwikkeling wil ons iets teruggee aan die gemeenskap. Benewens die private eenhede, moet die gemeenskapsaal vir die inwoners van Villa Riviera die ruimte bied vir samesyn. ‘n Plek waar musiek gemaak kan word, vriendskapsbande gesmee, en mense kosbare tyd saam kan geniet,” het Hugo gesê.

“Ons is opgewonde oor die oord en die geleentheid wat dit vir mense kan skep”, het hy bygevoeg.


In sy boodskap tydens die amptelike openingsgeleentheid het Guillaume beklemtoon dat ‘n gebou nie net uit stene en sand gebou is nie, maar deur mense vir mense. “Ons ouer geslag dra ‘n leeftyd se wysheid, opofferings en ervaring met hulle saam. Vandag eer ons nie net hierdie gemeenskapsarea nie, maar ook die mense vir wie dit gebou is. Mense wie hul deel gedoen het. Ons hoop dat hierdie ‘n plek sal wees vir nuwe vriendskappe. samesyn en waar elke inwoner welkom en gewaardeer sal voel.”


“Vir elkeen wat help bou het aan hierdie droom, Karin, Hugo, die beheerliggaam en kontrakteurs, almal wat ingestem het op die jaarvergadering vir die ontwikkeling – ons opregte dank. Hierdie ontwikkeling sal nog vir jare ‘n verskil in mense se lewens maak.” het hy gesê.


Darien Oosthuizen het in haar boodskap verwys na Parys se 150 jaar bestaansviering vanjaar, en daarop gewys dat geboue herinneringe het wat generasies verbind. “Om te onthou wat ‘n gebou vroeër was bou ‘n brug tussen die verlede en hede. In hierdie mure is baie stories en geskiedenis. Die waarde van historiese geboue lê nie net daarin om die verlede te bewaar nie maar ook om die hede te dien,” het sy gesê.


“As ‘n gebou regtig suksesvol gerestoureer wil word moet sy karakter nie verander word nie. As hierdie gemeenskapsaal steeds die ou hotel se waardes van gasvryheid, respek en gebondenheid uitbou dan leef die siel van die gebou,” het sy gesê.


Sy het ook verwys na die destydse sinargie tussen die NG Moederkerk en die ou Riviera-hotel en is die fondse vir die openingsgeleentheid vir die restourasie van die NG Moederkerk bewillig. Die opening van die gemeenskapsaal is gevier met ‘n heerlike sopete, bedien deur O’s Restaurant, en die klanke van jong musikante wat swier aan die middag se verrigtinge gegee het.

Hugo en Guillaume het die wens uitgespreek dat hierdie ruimte in die toekoms nie net ‘n tuiste vir die inwoners van Villa Riviera sal wees nie, maar ‘n ontmoetingsplek vir die breër gemeenskap. Die gedagte is om ook hier ‘n vyf-bed step-down gedeelte te hê met Pro Care as diensverskaffer, en dat die restaurant in die hoofgebou oop sal wees vir inwoners van Villa Riviera en hul familie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button