Ek voel ek moet die brief skryf, want ek kan nie glo dat die stadsraad toelaat dat ‘n vakansieoord soos die Mimosa Tuine so sleg bestuur word nie. Dit is ‘n goudmyn wat nou leeg staan en elke dag meer agteruit gaan.
Dit is ‘n verleentheid vir ons dorp se naam! Die waterglybaan is sulke lekker vermaak vir die kinders.
Ek was twintig jaar bestuurder van die oord. Dit is nie vyfster nie, maar dit is die beste plek in Parys vir groepe vir etes, troues, vergaderings ensovoorts.
Die personeel wat tans aangestel is, se dienslewering is ‘n skande, terwyl die oord beslis nie nou groot salarisse kan beskostig nie, omdat dit meestal leeg staan, behalwe die een of twee keer ‘n jaar wanneer die motorfietse hier saamtrek.
As die Mimosa Tuine reg bestuur word behoort salarisse betaal te kan word, en die oord terselfdertyd ook nog ‘n goeie inkomste vir die Raad in te bring.
Ek kan nie help om te wonder hoeveel belastinggeld bes moontlik gebruik moet word om uitgawes soos salarisse te betaal nie.
Die Mimosa Tuine was ‘n groot naam onder toeriste, selfs in die buiteland en dit was elke naweek vol bespreek selfs oor die wintermaande. Boonop was dit ‘n goeie inkomste vir die dorp se besighede met die gereelde besoekers wat hier kom vakansie hou het. Die kos was van die beste.
Ek kry skaam om te dink ek ken die plek se waarde en nou word dit nie reg bestuur nie en verval by die dag meer.