Dankie Parys, julle laat ons welkom voel!
"Ons het weer besef waarom Parys so ’n spesiale plekkie is."
Hierdie brief kom van ’n ou Parysenaartjie af!
Die naweek van 11 tot 13 September het ek, my man en ons vriende weer vir die eerste keer in omtrent twee jaar ’n draai in Parys gaan maak. Wat ’n heerlike naweek was dit nie!
Ons het by die Mirabel Gastehuis tuisgegaan, en dit was ’n baie aangename slaapplek vir die naweek.
Vrydagaand het ons by O’s Restaurant gaan eet. Die romantiese atmosfeer het ons sommer weer soos verliefdes laat voel! Die kos was uit die boonste rakke en ons het die aand behoorlik geniet.
Daarna het ons, in die donkerte, soos kinders deur die strate van Parys gestap op soek na ’n winkel om melk vir die volgende oggend se koffie te koop. Soos ons dit jare gelede gedoen het, wou ons amper Tok Tokkie gespeel het – maar ons was tog maar ’n bietjie bang vir daardie omie met sy geweer!
Saterdagoggend het ons ’n heerlike ontbyt by Mayors Ranch Deli gaan eet, waar ons sommer dadelik ons Sondagmiddagete bespreek het. Van daar af het ons die winkeltjies gaan verken en toe gehoor van die Hartlus-mark. Ons het selfs ’n paar bekendes daar raakgeloop en ‘n draai gaan maak by Mega Mica… wat n winkel!!!
Ons het ook by Hennies gaan kuier – iets wat ons nie eens in ons eie dorp het nie! En hulle melkskommels! Absoluut heerlik!
Saterdagaand kon ons maar net nie besluit waar om te gaan eet nie, toe vat ons sommer die pad na Jimmy Jaggers. Die kos was heerlik en die diens was, weereens, uit die boonste rakke.
Die manne het daarna teruggekeer om die rugby, wat om 11-uur uitgesaai is, te gaan kyk. Hulle wou mos die ware Parys-rugby-“vibe” beleef!
Sondagoggend het ons in Venterskroon gaan ontbyt eet, en teen 12-uur was dit tyd vir ons middagete by Mayors Ranch Deli. Dit was beslis die moeite werd. Elke happie kon jy proe en baie smaaklik – alles is met liefde voorberei. Smaaklik is ’n understatement! En van daardie poeding praat ons liewer nie eers nie… dit was iets besonders!
Voordat ons Parys verlaat en terug is na ons tuisdorp, moes ons natuurlik eers by Koffie op die Stoep stop vir hulle heerlike pasteie. ’n Mens kan mos nie Parys toe gaan en huis toe ry sonder ’n pastei nie!
Hierdie naweek was beslis ’n lekker naweek in Parys, en dit alles te danke aan Oom Sakkie.
Dankie, Parys! Julle het ons van die eerste oomblik af baie welkom laat voel. Ons het weer besef waarom Parys so ’n spesiale plekkie is.
Ons sal beslis weer kom kuier!



