Beurtkrag geblameer vir dam vol rioolwater

Beurtkrag geblameer vir dam vol rioolwater

 

Die Rooidam in Derdelaan waaruit Parys vir jare sy leiwater pomp, is met rioolwater besoedel. Benewens die ondraaglike stank vir weke al, is inwoners met reg bekommerd oor wat die besoedeling aan ondergrondse water doen, met baie huishoudings wat weens die dorp se knaende waterprobleme, veral ook in dié woongedeelte, op boorgatwater staatmaak.

Die munisipaliteit het by navraag gesê sy voorlopige ondersoek Maandag het bevind dat kragonderbrekings en beurtkrag ‘n konstante oorvloei van die Tokoloho rioolpompstasie veroorsaak, wat dan deur gravitasie in die leiwaterkanaal inloop, wat weer in die Rooidam uitloop. “Al die rioolpompstasies is in goeie werkende toestand,” is gesê.

Maar DA-raadslid, Saal de Jager, betwyfel ten sterkste dat beurtkrag alleen te blameer is vir die gemors. Rioolwater besoedeling van die Rooidam het oor jare gereeld van tyd tot tyd gebeur, veral as mangate in Tumahole wat in die hoofkanaal loop, oorloop. Soos nou weer die geval was.

Hy het Maandag en Dinsdag self gaan ondersoek instel. Teen Dinsdagoggend vroeg was daar twee mangate onder die Tokoloho rioolpompstasie wat oorgeloop het. Nadat hy dit onder amptenare se aandag gebring het, is daar dadelik werk daarvan gemaak en is dit reggestel.

 

Teen Dinsdagoggend vroeg het rioolwater nog by dié mangat uitgeloop as gevolg van ’n verstopping. Die verstopping is later die oggend verwyder.

Waar die uitpomp van leiwater in die verlede gehelp het om die konsentrasie van rioolwater te verdun wanneer daar rioolstorting was, is die situasie die afgelope paar weke beslis ook vererger omdat daar al vir maande nie leiwater gepomp word nie. Daar is benewens die vrees vir besoedeling van ondergrondse water ook ernstige kommer oor wat die besoedeling aan vislewe in die dam doen.

Dit was teen Gazette se druktyd nie gesê wat gedoen gaan word aan die rioolwater in die dam, óf die rehabilitering van die besoedelde gebied waar die mangate oorgeloop het nie.  

 

Die rioolbesoedeling kan duidelik hier gesien word. Die foto is Dinsdagoggend geneem. Foto’s: Verskaf

Rioolwater het tot Dinsdag nog direk in die leiwaterkanaal ingeloop wat weer in die Rooidam inloop.

‘n Inwoner in die omgewing van die Rooidam, Tersia Kriek, het bevestig dat sy reeds op 15 Oktober die rioolbesoedeling per WhatsApp aan die munisipale bestuur gerapporteer het.

Sy het ook foto’s gestuur van die rioolwater wat in Derdelaan loop nadat die sluis die aand opgemaak is. Sy het dieselfde dag die foto’s ook aan die munisipaliteit se tegniese direkteur gestuur en aan ‘n gesondheidsinspekteur van die Fezile Dabi Distriks Munispaliteit.

Die gesondheidsinspekteur het dit aan die munisipaliteit gerapporteer, maar teen Vrydag was die situasie nóg onveranderd. Gazette het ook vasgestel dat daar al op 14 September ‘n gesprek was met ‘n munisipale amptenaar oor die rioolwater in die Rooidam, die rioolpyplyn en probleme met die bloekombome by die dam.

Daar is toe gesê dat daar binne twee weke water na die dam gepomp sou word om die dam te spoel. Op 19 September was daar ‘n opvolgskrywe aan die munisipaliteit se tegniese direkteur oor die rioolreuk by die dam en die Tumahole riool uitvloei pyplyn.

DA-raadslede en die Vaal Action Group het Maandag druk begin plaas op die munisipaliteit om die besoedeling onmiddellik stop te sit.

Dit bly egter onverstaanbaar dat waterbesoedeling, wat ‘n wetlike oortreding is, vir so lank toegelaat word sonder dat munisipaliteite tot verantwoording geroep word, ten spyte van gesondheidsgevaar en omgewingsbesoedeling.    

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button