“Ek het nooit gedink ek sou so iets sien in my lewe nie”
"Dit het sommer 'n hernude volkstrots in my wakker gemaak"

Weke se voorbereiding en haarfyn beplanning om die 16 ossewaens op sleepwaens gelaai en van die ossewa-kamp by Clarens na die FAK se Udolpho-vakansieplaas net buite Parys te skuif, het vanoggend gestalte gekry toe daar net voor 14:00 vanmiddag begin is om die spreekwoordelike wa deur die drif te trek.
Nie oor riviere en berge nie, maar na dekades pad langs met hierdie kosbare erfenis waarvan een van die ossewaens uit die 1800’s dateer – een van min wat nog oor is in die land nadat die meeste tydens die Anglo Boere-oorlog verbrand is. Die ander dateer uit die 1900s. Die waens wat eintlik transportwaens is, sal voortaan deel vorm van die akkommodasiefasiliteite op Udolpho en is ‘n groot hupstoot vir Parys se toerismebedryf.
Die FAK het die hele ossewakamp wat voorheen besoekers van heinde en verre na die skilderagtige Vrystaatse dorp Clarens gelok het, gekoop om hier by Udolpho net buite Parys te vestig.

Só het die trek vanoggend begin
Elkeen van die vrywilligers wat vandag aan die Groot Trek deelneem het ‘n Voortrekker-naam gekies, vertel Jan Danie Malan, die FAK se kultuurorganiseerder in die Vrystaat.
Vanoggend is die laaste waens nog op die sleepwaens gelaai en het Jaco Cilliers, die hoof van Erfenisbewaring van die Erfenisstigting die sweep geklap om die Groot Trek af te skop.


Marius van Zyl wat onder die naam Sarel Cilliers trek, het ‘n gebed gedoen waarna die pad berg af gevat is.
Op Bethlehem het die Rapportryerskorps die trekgeselskap ingewag en ‘n groete boodskap oorhandig.
In Petrus Steyn is ‘n vinnige stop gemaak om die brandstoftenks vol te maak.




Die osse en die waens
In Petrus Steyn het Sonia de Vos skoon bewoë ‘n foto van die groep geneem met die woorde: “Ëk kan dit nie glo nie. Ek het nooit gedink ek sou so iets sien in my lewe nie. Dit is ongeloofllik spesiaal. Dit maak my hart sommer warm en dit het sommer ‘n hernude volkstrots in my wakker gemaak.”
Daar is net na 17:00 deur Heilbron gery en het die Vegkop direksie en lede van die gemeenskap die groep ingewag.
By Sasolburg het radio amateurs die trek ingewag en gewaai.
“Dit bevestig net weer dat hierdie wat ons vandag hierso doen ‘n groot ding is. Ons sien dit dalk nie nou nie. Dalk oor 5 of 10 jaar, maar hierso het dit klaar vir iemand iets beteken. Ons weet ons doen die regte ding. Ons is waar ons wil wees,” het Jan-Danie Malan gesê.
DIe groep behoort net na 19:00 by Parys te wees waar hulle die Vaal Eden afdraai vanaf die R59 sal vat met Udolpho wat dan die eindpunt van die tog sal wees. Vanaand nog sal die aflaai werk gedoen en die waens op hul plekke in ‘n laer getrek word. Die waens is nie opgebreek nie, maar die seile is afgehaal sodat die waens vervoer kan word en sal die seile volgende week weer teruggesit word.
Mense het met groot belangstelling die trek gevolg.
En soos wat daar gevorder is langs die pad het die hoofkommandant, trekkommandante, laaimeesters, touleiers, staatmakers, kampkokke en selfs ’n strafsersant gesorg dat die trek sonder teëspoed deur die drif kom.
Daar was ook beslis aanspraakmaker op die Minora-wisseltrofee vir die skerpste tong wat gesorg het vir kwinkslae en goedige gespot om die ure op die pad sommer gou verby te kry.
Die ossewa-kamp storie:
Ollie Esplin, wat die ossewa-kamp op Clarens bedryf het, vertel dat die kampstorie oorspronklik by sy skoonpa, Gerhard Wille, begin het. Hy was ‘n veteraan trekkerversamelaar wat soos wat hy rondgegaan het op plase, ossewaens aangekoop het waar hy ook al een sou teëkom.


In die laat tagtigerjare het hy op sy wildsplaas en saaiboerdery op die plaas Hoekfontein in die Ficksburg-distrik, begin om agt van die waens wat hy oor tyd bymekaar gemaak het, in ‘n laer te trek en te verhuur as akkommodasie. In die waens wat eintlik transportwaens is, kan tussen vier en agt persone slaap, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa”
Die waens het letterlik van oor die land gekom – een van hulle is een van net drie wat dateer uit die 1800’s wat nog bestaan, nadat meeste ossewaens tydens die Anglo Boere-oorlog aan die brand gesteek is.
Die res van die waens dateer meestal uit die vroeë 1900’s en word die waens in die kamp ook gelys in ‘n boek van prof. Erik Holm.
Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.
Die ossewa-kamp by Ficksburg was destyds so gewild dat Wille se skoonseun, Olie, wat ‘n avontuur toerisme onderneming in Clarens bedryf, in 2006/7 ‘n soortgelyke kamp daar begin het met agt waens. Toe Wille se plaas ongeveer drie jaar gelede verkoop is, is die laaste waens ook na Clarens geskuif. Wille is in 2021 aan kanker oorlede. Hy was ‘n man wat ‘n passie gehad het vir die toerismebedryf en wat bekend was vir sy besondere gasvryheid.
Oor die jare was die ossewa-kamp by Clarens eweneens baie gewild, veral onder skoolgroepe en kampeerders. Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp wat akkommodasiegeriewe bied en boonop ’n unieke kampervaring weens die historiese waarde daarvan. Vir kampeerders bied dit ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe en maak jy hier kos in die veldkombuis. Met die verskuiwing van die hele ossewa-kamp, sal dit ‘n unieke toevoeging wees tot die baie gewilde Udolpho kampterrein, en ook die toerismebedryf vir Parys.



