Onderwyser met mes gesteek toe hy leerder aanspreek oor laatkommery
'n 21-Jarige leerder van die skool is in verband met die voorval in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding.

‘n Onderwyser wat laatkommery by die Kgabareng skool in Viljoenskroon aangespreek het, is deur ‘n 21-jarige leerder van die skool met ‘n mes gesteek, Die voorval is deur polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle bevestig.
Kapt. Earle sê dit blyk dat die leerder agressief geraak het toe hy deur die onderwyser aangespreek is oor laatkommery.
Die leerder het die onderwyser op die regterhand en in die skouer met die mes gesteek. Toe die skoolhoof tussenbeide wou tree, het die leerder ook na bewering probeer om die skoolhoof met die mes te steek, maar nie daarin geslaag nie.
Die onderwyser is by die Pax-kliniek in Viljoenskroon behandel
Die leerder, Teboho Johnson Busa, het reeds voor die Viljoenskroonse landdroshof op klagte van poging tot moord verskyn. Hy bly in aanhouding en sal weer op 19 Maart voor die hof verskyn.
Skole in Viljoenskroon was na die voorval gesluit toe onderwysers by die hof byeen gekom het ter ondersteuning van die onderwyser wat in die voorval beseer is, terwyl sommige leerders ook by die hof saamgedrom het uit ondersteuning vir die beskuldigde.
Lede van die polisie se openbare orde eenheid is ontplooi en het die situasie gemonitor.



