Geliefde skriba sterf ná kerkdiens
Rina sal met net die mooiste herinneringe onthou word as iemand wie se geloof haar lewensgetuienis was.
Sondag was Rina Pienaar die een wat die kerkklok voor die erediens gelui het, en die laaste om toe te sluit na die tee wat Sondag in die kerksaal by die NG Moedergemeente bedien is. Maar min het kon dink dat dit die laaste erediens sou wees waar Rina haar plek soos elke Sondag sou volstaan.
Rina (74) is 12:00 Sondag. kort na die erediens, by haar huis, vermoedelik aan ‘n hartaanval oorlede.
Sy was die gom wat haar hartmense bymekaar gehou het. ‘n Spreuke 31 vrou wie se geloof ‘n lewensgetuienis was. ‘n Anker-vrou vir haar man, Abie, en die ma wat ons kinders gebid het tot waar ons vandag is, het haar dogter, Carla, vertel.
“Sy was nie een vir besigheid nie, maar sy was ‘n Christen vir wie haar geloof haar alles was.”

Rina is in die Vredefort-distrik gebore en het in Vredefort skoolgegaan voordat sy later na die handelskool in Potchefstroom is.
Na skool begin sy by die destydse Arwa-fabriek in Parys werk en is dit ook daar waar sy vir Abie ontmoet het.
Daarna was sy sekretaresse van die stadsklerk by die munisipaliteit.
Sy het ook jare lank by Eben Kriek en Lou van Wyk gewerk in die prokureursfirma se finansiële afdeling.
As skriba het sy 20 jaar diens gedoen by die NG Moedergemeente.
Die laaste twee weke het sy ook die gemeente se koster pligte waargeneem.
Rina sal met net die mooiste herinneringe onthou word deur Abie, met wie sy 52 jaar getroud was, haar kinders Anneke Pienaar, Carla Coetzer en Drico Pienaar, en haar kleinkinders Jaco Coetzer, Arlo Pienaar, Ruwaldt Pienaar en Lianke Pienaar wat dié liefdevolle ouma se hart se punt was, asook haar suster Elma
Die ter aarde bestelling sal Donderdag 11 Junie om 11:00 geskied, waarna ‘n gedenkdiens vir Rina vanuit die Moedergemeente gehou sal word.
Haar plek in die kerk sal Sondag leeg wees, maar in die harte van hulle wat haar geken het, sal herinneringe voortleef van ‘n vrou wie se geloof en liefde hul anker was.



