Kyk: ‘n Gesig wat jy nie sommer sien nie
Die Vaalrivier en groter damme in die omgewing bied geskikte habitat vir dié indrukwekkende voël.
Ferdie Jordaan, ‘n kranige fotograaf van Parys, het die reuse reier (Goliath heron/ Ardea goliath) in die Vaalrivier oor die naweek deur sy kameralens in die Parys-omgewing vasgevang.
Hy vertel dat dit blote geluk was om die foto van die reier vroegoggend met die mis te kon neem.
Ferdie het ‘n Nikon Z50 MKII gebruik met ‘n 18-300mm lens. Die foto is geneem met die volgende kamera verstellings: ISO spoed 400, F-stop 6.7, sluiterspoed 1/750s
Die Reuse-reier word gewoonlik aangetref by groot riviere, damme, vleilande en watergebiede met uitgebreide rietvelde waar dit vis jag. Die Vaalrivier en groter damme in die omgewing bied geskikte habitat vir dié indrukwekkende voël.

Voëlkykers in die Parys-omgewing meld van tyd tot tyd waarnemings van die spesie aan.
Die voël is maklik herkenbaar aan sy:
- Hoogte van tot 1,5 meter.
- Rooibruin (kastaiingbruin) nek en bors.
- Groot dolkagtige snawel.
- Stadige, doelbewuste jaggedrag.
Vroegoggend en laatmiddag is gewoonlik die beste tye om na hulle uit te kyk. Hulle leef dikwels alleen en kan vir lang tye doodstil staan terwyl hulle vis bekruip.
Interessant genoeg is die Reuse-reier een van die min reiers wat gereeld groot visse vang, en volwassenes kan ‘n vlerkspan van meer as 2 meter bereik. Daarom word ‘n waarneming van dié majestueuse voël altyd as ‘n hoogtepunt vir voëlkykers beskou.



