Munisipale amptenare en diensverskaffer voor die hof vir tenderbedrog ná polisie anonieme wenk kry
Anonieme inligting wat 'n lid van die publiek op die MySAPS toepassing deurgegee het, het gelei tot die ondersoek en arrestasie.
Twee amptenare van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit in Kroonstad en die direkteur van ’n ingenieursmaatskappy het in die Welkom-handelmisdaadhof verskyn nadat hulle op aanklagte van bedrog, diefstal en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 56 van 2003) in hegtenis geneem is.
Die beskuldigdes is op 9 November in hegtenis geneem, het Valke-woordvoerder luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli bevestig. Die beskuldigdes is die toesighouer Makibinyane Benjamin Xaba (52), ‘n voormalige bestuurder Lerato Edith Ngobeni (44) en Munyaradzi Benyera Mpofu (30), direkteur van Benyera Consulting and Contracting Engineers.
Volgens die polisie het die munisipaliteit Mpofu se ingenieursmaatskappy in September 2019 vir ‘n tydperk van drie jaar aangestel om instandhoudingswerk by die rioolwatersuiweringsaanleg te doen.
Daar word beweer dat Mpofu fakture ingedien het vir werk wat nooit gedoen is nie. Xaba en Ngobeni het na bewering die fakture gesertifiseer en bevestig dat die werk wel afgehandel is.
’n Ondersoek deur speurders van die Ernstige Korrupsie-ondersoekeenheid in Welkom het die beweerde bedrog blootgelê. Die munisipaliteit het na raming sowat R858 000 as gevolg van die beweerde bedrog verloor.
Generaal-majoor Mokgadi Bokaba, hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek in die Vrystaat, het die lid van die publiek bedank wat anoniem inligting op die MySAPS-toepassing deurgegee het, wat gelei het tot die ondersoek en arrestasies.



