Potchefstromer blink uit in senior ITF tennistoernooi in Pretoria
Mari-Louise van Zyl het 'n geleentheid om die kwarteindrondte te haal wanneer sy Gabriela Knutson van Tsjeggië in Pretoria aanvat.

Die Potchefstroomse tennisster, Mari-Louise van Zyl, wys haar staal by die ITF W-50 tennistoernooi in Pretoria nadat sy na die tweede rondte van hierdie senior vroue wêreldtoernooi deurgedring het.
Van Zyl (17) het vir Amanda Nava Elkin (Meksiko) met 5-7, 6-4, 6-4 in ‘n titaniese stryd in die eerste rondte op Dinsdag, 27 Februarie geklop.


Van Zyl, ‘n voormalige Potchefstroom Gimnasium-leerder en lid van die Riaan Venter Tennis Akademie, gaan vandag (Woensdag, 28 Februarie), teen die tweede gekeurde, Gabriela Knutson van Tsjeggië te staan kom.
Isabella Kruger is die ander Suid-Afrikaner wat nog in die toernooi is, nadat sy vir Maddalena Giordana van Italië met 6-3, 6-2 geklop het.

Van Zyl is ook in die Suid-Afrikaanse tennisspan vir die Afrika Spele in Ghana ingesluit. Hierdie Spele vind vanaf 8-23 Maart plaas.