Laerskool Mooirivier se swemmers het hul talent ten toon gestel met ‘n sterk vertoning by die 2026 Super 12 Swemgala teen ander tot laerskole en ‘n algehele tweede plek behaal.
Tzaneen het die eerste plek geneem terwyl Pietersburg-Oos derde gekom het. Hennopspark, Stephanus Roos en Menlopark het onderskeidelik die vierde tot sesde plekke behaal.
Die Tokkies se algehele silwermedalje is te danke aan 29 uitstaande podiumplekke. Hiervan is 14 eerste plekke, nege tweede plekke en ses derde plekke. 17 was individueel en 12 as deel van aflosspanverband.
Ava de Kock het twee eerste plekke behaal, terwyl Joshuah Sutton met ‘n eerste, tweede en derde plek geëindig het. Mila de Leeuw en Millay de Kock het ook elk ‘n eerste plek behaal. Fredrich Liebenberg en Lisa Kotzé het elk ‘n eerste en tweede plek ingepalm.
Leva Meiring het twee tweede plekke ingepalm, terwyl Daniel Kleynhans, Giah Sutton en Shylo Smith elk tweede plekke behaal het. Abel Nebe het ‘n derde plek bygevoeg.

Mooirivier se aflosspanne het ook net so sterk gevaar met sewe eerste plekke, een tweede plek en vier derde plekke.
Die skool het die span se prestasies toegeskryf aan die swemmers se talent, harde werk, deursettingsvermoë en goeie spangees.
“Wat ons die heel trotsste maak, is nie net die medaljes en plekke nie. Dit is elke Tokkie wat opgedaag het, sy of haar beste gegee het, spanmaats aangemoedig het en met trots vir Mooirivier geswem het. Hierdie tweede plek behoort aan die hele span. Baie dankie aan elke ouer, afrigter en ondersteuner wat deel was van hierdie besondere geleentheid.”



