Die brand verbod wat gedeeltelik in Potchefstroom gelig is, mag dalk weer na die naweek ingestel word indien dit nie genoeg teen Sondag reën nie.
Dit beteken dat Potchefstromers moontlik van volgende week af nie sal mag braai of oop vure maak nie. Die Noordwes is reeds onder ‘n rooi brandwaarskuwing hierdie week.
Dr. Kobus Roux, Voorsitter van Potchefstroom Brandbeskermingsvereneging (PBBV), sê die verbod is sowat twee weke gelede verslap na die onlangse reën wat in die PBBV se opvang gebied geval het.
Dit beteken geen permit of toestemming is meer nodig om asgate en/of lande skoon te brand nie.
Die intensie daartoe moet steeds 24 uur voor die tyd op die WhatsApp-groepe deurgegee word asook na jou gebiedshoof vir kontrole doeleinde.
Gewone reëls is steeds van pas om voorsorg te tref wanneer daar met bossie kappers gewerk word of krag gereedskap in die veld wat vonke kan veroorsaak.
Daar is baie plekke waar die bo-gras steeds dood is en maklik kan brand.
Sou die reën egter wegbly sal ʼn brand verbod deur die FPO weer ingestel word. Sou toestande verander sal daar dadelik weer waarskuwings uitstuur word.
“Baie dankie aan al ons lede se samewerking deur 2024 se brand seisoen. Dit was ʼn baie moeilike seisoen met talle brande en verliese. Mag ons ryklik geseën word met reën en goeie oeste,” gaan Roux voort.



