‘n Nuwe spoedhobbel in Thabo Mbekiweg het verskeie voertuie beskadig en ongelukke veroorsaak.
Die spoedhobbel wat ongemerk is, is as voetoorgang vir skoolkinders deur inwoners van Oewersig gereël. Die spoedhobbel is deur munisipaliteit goedgekeur en is Woensdag 11 Desember deur ‘n kontrakteur aangebring.
Teen Woensdagaand was daar nog geen waarskuwing aangebring of lyne op die spoedhobbel geverf nie. Dit het daartoe gelei laat verskeie voertuie beskadig is en ook ‘n aantal ongelukke gebeur het.
Johan Naudé, hoof uitvoerendebeampte van Cachet Park Improvement District, het bevestig daar het verskeie ongelukke gisteraand plaasgevind waaronder een motor drie bande verloor het en die windskerm beskadig is.
Inwoners van Potchefstroom het nie net hulle bekommernis uitgespreek oor die gevaar van die ongemerkte hobbel nie, maar ook oor hoe hoog dit is en dat dit onmoontlik is om daaroor te ry sonder om jou voertuig te beskadig.
‘n Beampte van die JB Marks Verkeersdepartement het die toneel vanoggend 12 Desember besoek.
“Dit is nie opgerig volgens die spesifikasies wat ingedien is nie, maar hulle is tans besig om dit af te breek,” het die beampte gesê.



