Gemeenskap herstel self riool probleem in Paryslaan
'n Kreatiewe plan is beraam om die riool te herlei.
AfriForum, Bailliepark Gemeenskapsprojek (BPGP), die plaaslike gemeenskap en Nexgen Kontrakteurs het saamgespan om ‘n oplossing vir die riool probleem in Paryslaan te vind.
Deur nie stil te sit en toekyk nie, het hulle binne dae verrig wat die munisipaliteit al maande belowe.
Aangesien hulle nie aan die munisipaliteit se infrastruktuur wou peuter nie, het Victor Kruger van Nexgen met ‘n kreatiewe plan vorendag gekom om die riool te herlei.
Herald het vroeër berig rou riool borrel uit mangate in Paryslaan, Bailliepark en syfer dan by woonkomplekse in. Inwoners van die komplekse se gesondheid lei daaronder en die reuk van die riool kan al van buite die dorp af geruik word. Die situasie was so erg dat huise selfs deur die riool oorstroom was.
Die munisipaliteit het in November belowe om ‘n nuwe rioollyn bo-op die vorige een in te sit en meer mangate by te las.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê sy is vreeslik dankbaar vir elkeen wat sy kant gebring het en ook vir die besonderse kontrakteur en sy span.
“Die gemeenskap ervaar reeds groot verligting en ons wil spesiale dank uitspreek aan Victor en sy ysterspan wat hierdie uitdagende werk met ‘n glimlag aangepak het. Aan elke persoon wat reeds ‘n donasie gemaak het – julle maak ‘n verskil! Ons sal egter steeds dankbaar wees vir bykomende donasies, veral van inwoners wat direk deur die probleem geraak word.”
Bydraes kan in die volgende rekening inbetaal word:
Rekeningnaam: BAILLIEPARK GEMEENSKAPSPROJEK NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62903594374
Bankkode: 210835
Verwysing: Paryslaan Riool






