Drie in hegtenis wat in besit van plofstof gevind is
Die publiek word aangeraai om misdaad aan te meld.
Die Dr Kenneth Kaunda Onwettige Mynbou-taakspan, bygestaan deur die Plofstof-eenheid, het Dinsdag, 25 Maart drie verdagtes vasgetrek wat in besit van plofstof gevind is.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die span het op die Shiva-myndamgebied in Klerksdorp toegeslaan nadat hulle inligting oor onwettige mynbou ontvang het.
“Met hul aankoms by die myn is talle persone waargeneem wat besig was met onwettige mynaktiwiteite. Toe hulle die polisie sien, het hulle van die toneel gevlug, maar die polisie het daarin geslaag om drie verdagtes tussen 32 en 35 jaar oud in hegtenis te neem.”
Op die perseel het die polisie ‘n verskeidenheid plofstof gevind, insluitend 20 lontkoppe, 20 skietpatrone en 120 m se koord. Verder is daar ook beslag gelê op 13 kragopwekkers, twee waterpompe en vyf mynbore.
Die verdagtes het Donderdag, 27 Maart in die Klerksdorp-landdroshof op aanklagte van die onwettige besit van plofstof, onwettige mynbou en die oortreding van Artikel 49 van die Immigrasiewet, 2002 (Wet No. 13 van 2002) verskyn.
Die publiek word aangeraai om misdaad aan te meld, insluitend deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Misdaadstopnommer 08600 10111 of die MySAPD-toepassing anoniem. Afpersingverwante voorvalle kan by die Afpersing-blitslyn by 080 091 1011 aangemeld word.









