Strafbare manslag-verhoor vir sesde keer uitgestel
Gideon Borstlap, wat op twee klagtes van strafbare manslag tereg staan ná 'n noodlottige ongeluk in 2019, het weer in die hof verskyn. Die verhoor is vir die sesde keer tot 18 Augustus uitgestel.
’n Man van Potchefstroom wat op twee klagtes van strafbare manslag te reg staan, se verhoor is vir die sesde keer tot 18 Augustus uitgestel.
Gideon Borstlap (38) het kort ná die ongeluk in 2019, waarin Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) dood is, vir die eerste keer in die hof verskyn.
Die ongeluk het op Donderdag 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat naby die gholfbaan plaasgevind. Die twee vriende was op pad huis toe, toe Borstlap se voertuig glo met hulle s’n gebots het. Albei slagoffers is op die toneel dood.
In 2020 is die saak van die rol geskrap nadat die vervolgingspan geoordeel het dat daar nie ’n onafhanklike ooggetuie was wat die saak suksesvol kon ondersteun nie. Borstlap is intussen op borgtog vrygelaat.
Die ondersoek het nie daar doodgeloop nie. Die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om met enige inligting vorendag te kom.
Dié oproep het in 2022 vrugte afgewerp toe ’n nuwe ooggetuie na vore gekom en ’n verklaring afgelê het. Die saak is toe weer aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) voorgelê wat besluit het om die saak weer op die hofrol te plaas.
Borstlap het Maandag in die streekhof verskyn, waar hy op waarskuwing vrygelaat is, sê kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder. Die saak is tot 18 Augustus uitgestel.



