Twee voorvalle waar straatkinders glo amok gemaak het, is verlede week by die polisie aangemeld. Die eerste voorval was Saterdagoggend omstreeks 10:20 in OR Tambostraat toe ’n man in die straat deur ’n groep straatkinders voorgekeer is.
“Een van hulle het die man met ‘n mes gedreig, terwyl die ander hom aangerand het,” sê ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder.
Hulle het hom glo aan die keel gegryp, waarna hy van kontant beroof is. Die groep het kort daarna gevlug.
Die tweede voorval was ’n inbraak by Ons Glas in James Morokastraat. Volgens Roy Berry, eienaar, het sy vrou Mariaan omstreeks 05:50 die Maandagoggend ’n oproep van die sekuriteitswag gekry dat daar by die perseel ingebreek is.
Die kantoor was baie deurmekaar toe Mariaan daar aankom. Twee ruite is gebreek en al die leêrs is op die grond uitgegooi. Daar is ook bloed op die perseel gevind. Die Berrys vermoed dat iemand die ruite met hulle kaal hande gebreek het om die perseel te betree. Volgens Roy het hulle al lank ’n probleem met straatkinders wat vuurmaak in die groot asblik langs die winkel.
“Hulle gebruik soms ons parkeerarea as ’n badkamer,” sê hy.
Die Herald het die gebrande vullis en die menslike ontlasting langs die asblik in die area gesien. Probleme met straatkinders m steek kort-kort in Potchefstroom kop uit. Volgens Manyoba kan die polisie slegs intree wanneer daar ’n misdaad gepleeg word. “Dit is ’n sosiale kwessie, tog werk ons baie goed saam met sosiale welsynorganisasies,” vertel sy.
Inwoners kla gereeld oor die straatkinders wat oop en bloot loop en gom snuif.
Hoewel die snuif van gom glo anti-sosiale en selfs kriminele gedrag veroorsaak, is daar geen wet in Suid-Afrika wat die verkoop van gom aan minderjariges reguleer nie. Wanneer die dampe ingeasem word, is daar ’n tekort aan suurstof, wat die hart dwing om vinniger te klop om meer bloed na die brein te stuur.
Dit veroorsaak dan belemmerde spraak, gebrek aan koördinasie en hallusinasies in. Dit duur slegs ‘n paar minute en gebruikers moet dit herhaaldelik inasem om die effek daarvan te behou. Omdat die brein nie genoeg suurstof kry nie, kan die inaseming van die dampe persoonlikheidsveranderinge tot gevolg hê. Verlengde inaseming kan lei tot die gebruiker se dood weens hartversaking of versmoring. Thakaneng is ’n plek wat sorg vir straatkinders.
Die uitdaging is dat die kinders nie gedwing kan word om by die sentrum te bly nie.
Besoek hulle webtuiste https://thakanengpotch.wordpress.com/meet-the-boys/ vir meer inligting.



