
Die Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF) in Potchefstroom het die manne en vroue in blou Vrydag tydens ‘n padblokkade ondersteun, deur sonbeskermingsmiddels uit te deel. Die middels is deur Sunumbra geskenk. Die GPF meen daar kan gesê word dat Sunumbra “beskerming” verleen aan die manne in blou wanneer die Afrika-son op sy ergste is.

Die polisie se operasie “Festive Season” is goed op dreef en daar is verskillende aksies en optredes wat tydens die feestyd van stapel gestuur gaan word. Tydens die padblokkade was lt.-kol. Van der Linde in bevel om klem te lê op die 16 dae van aktivisme waar daar gefokus word op geen geweld teen vroue en kinders. Almal is ook weer bewus gemaak van die gevare wat te veel son inhou en die moontlikheid van velkanker. Koue water is gratis deur Build it en Oasis voorsien.
Die operasie was ‘n groot sukses en daar sal gedurende die feesseisoen nog ‘n paar sulke aksies wees.



