Wonder jy nog wat jy oor Oujaar gaan doen? Moenie verder daaroor wonder nie! Gaan hou partytjie in die skuim by die nuutste en beste kuierplek in Potchefstroom, Bronco Pub & Grill.
Bronco Pub & Grill is ʼn nuwe en opwindende onderneming in Potchefstroom met die fokus om ʼn goeie omgewing te skep waarin werkende mense hulself kan geniet sonder om deur die studentekultuur oorweldig te word.
Eienaar Willie van der Merwe sê dat Bronco al ʼn tyd lank op pad was. Hy wou al nege jaar gelede ʼn kuierplek vir werkende mense oopmaak, maar omstandighede het dit nie toegelaat nie. Nou is sy droom verwesenlik, en het Bronco uit eindelik sy deure oopgemaak.
Die teikenmark is persone oor die ouderdom van 30, en die rede hiervoor is omdat Potch reeds baie geleenthede bied vir jongmense en studente om sosiaal te verkeer en hulself te geniet. Die meer volwasse, werkende klas persoon sukkel om ʼn rustige tyd te beleef in die bestaande kuierplekke, en Bronco is net die plek waarheen hulle kan gaan na ʼn lang dag by die werk, of net om ʼn bier tussen vriende te deel.
As mens by Bronco instap, voel jy dadelik gemaklik en ontspanne. Met die reuse skaakbord dansvloer, die oop atmosfeer en die ou karre teen die mure, wil jy sommer dadelik ʼn drankie gryp en nuwe vriende begin maak. Nie net is daar ʼn lang kroeg, en lekker sagte bankies om by te sit nie, maar daar is ook veerpyltjie- borde waar daar in die toekoms veerpyltjiekompetisies gehou gaan word.
Verder is daar ook drie splinternuwe pooltafels en braaigeriewe sal ook binnekort reg wees om te gebruik. Daar is tans ʼn braai beskikbaar en braaipakkies en eetgerei kan voorsien word. As jy nie lus is om te braai of te dans nie, kan jy net rustig buite om die vuur sit en ontspan.
Die dansvloer is groter as enige dansvloer in Potch en musiek wissel van klassieke oldies tot die nuutste trefferlys. Daar speel Afrikaans, Engels, sokkie en losdans musiek en die platejoggie is oop vir voorstelle. Op Donderdae aande is daar ook karaoke, waar almal lekker kan kom saam sing en lag vir die wat dink hulle kan sing.
Daar word nog baie beplan in die nuwe jaar en Bronco soos hy vandag is, gaan nog uitbrei en verbeter om seker te maak dat families die tyd van hul lewens daar beleef.
Op 31 Desember hou Bronco ʼn Oujaar skuimpartytjie (foam party) vir die meer waaghalsige mense in die stad. Gaan geniet die aand saam met lekker mense en ʼn lekker atmosfeer. As jy nie lus is om nat te word nie, moet nie dat dit jou keer nie, die kroegarea sowel as die dansvloer gaan droog en skuimvry wees, so gaan skoffel gerus die nuwe jaar in. ʼn Toegangsfooi van R30 sal by die deur gevra word.
Hou Bronco se Facebookblad dop vir enige toekomstige optredes of partytjies.