“Ek kan nie meer nie,” was die laaste ding wat Andrew-Nisha Freeks vir haar vriendinne gesê het terwyl hulle haar by die huis wou kry nadat sy met ‘n mes gesteek is. Sy is kort daarna in die kliniek oorlede.
“Ons weet dat sy in die beste hande is,” sê Andrew Freeks oor sy 16-jarige dogter wat Dinsdag laatmiddag dood is nadat sy met ’n mes gesteek is.
Volgens konst. Kelebogile Trom, polisiewoordvoerder, is Andrew-Nisha Freeks (16) in die kliniek oorlede nadat sy vroeër in ’n parkie in Promosa met ’n mes gesteek is.
Volgens ‘n vriendin het drie meisies een van Nisha se vriendinne na ’n parkie toe geroep oor iets wat een van die vriendinne gesê het.
Sy het twee van haar vriendinne na die parkie vergesel.
Volgens haar het Nisha probeer help om die situasie te ontlont, waarna ’n argument tussen die meisies ontstaan het. “Die meisie het ’n hou na Nisha toe geslaan wat my getref het, toe begin hulle baklei,” vertel die ooggetuie. Terwyl hulle baklei het, het die 17-jarige meisie ’n mes uitgehaal en Nisha gesteek.
“Sy het eers misgesteek en die tweede keer het sy haar raakgesteek,” het die ooggetuie gesê.
Dié meisie en ander meisies het van die toneel gevlug en Nisha se vriendinne het haar huis toe geneem. Sy het op pad na die huis inmekaar gesak.
“Ek het vir haar gesê sy moet kom, maar sy het net vir my gesê ek kan nie meer nie,” vertel die vriendin.
Haar vriendinne het hulp gaan soek waarna hulle haar na die kliniek geneem het.
“Hulle het haar hemp oopgesny, dit was net bloed oral,” vertel sy.
Nisha se pa, Andrew, was nog in Randfontein en het eers op pad terug na Potchefstroom die nuus gekry dat sy oudste dogter oorlede is.
“Die pyn is onbeskryflik, dit was soos ’n vloed van emosie wat oor my gekom het,” vertel hy.
Volgens hom voel dit so sinneloos dat sy kind wat so vriendelik en geliefd was, deur so iets moes sterf. Nisha was ’n kranige netbalspeler met baie vriende en wat volgende jaar haar skoolloopbaan by Gimmies in Gr. 11 sou voortsit.

“Ek is ’n man van God, Nisha was ook ’n kerkmens. Vergifnis maak my vry, ek kan nie met haat in my hart rondloop nie,” vertel Freeks.
Nisha word oorleef deur haar ouers, Andrew en Marelyn Mokwena, vier broers, Rijustice Freeks, Lecorian Mokwena, Waky Mokwena en Hilton Mokwena en sussie Shevoline Freeks.
Nisha is die kleinkind van die bekende Mamma Angela Freeks wat ’n sopkombuis in Promosa bedryf.
Die gemeenskap is glo woedend oor wat gebeur het.
Die 17-jarige meisie het Woensdag vlugtig in die hof verskyn, maar is vir haar eie veiligheid in aanhouding by ’n plek van veiligheid. Die saak is uitgestel tot 21 Desember wanneer die borgaansoek aangehoor sal word.



