
’n Vrou is Maandagaand omstreeks 18:30 by haar huis in Chris Hanistraat deur ’n onbekende man met ’n vuurwapen gedreig.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die vrou by die huis toe sy ’n man in die erf sien. “Sy het na die deur toe gestap waar die man gestaan het,” vertel Manyoba. Die man het glo die vrou begin dreig met die vuurwapen in sy hand.
“Hy wou haar forseer om die deur oop te maak, maar sy het hom met pepersproei gespuit, waarna hy gevlug het,” het Manyoba gesê.
Die man het na bewering ’n deel van die hek gebreek om toegang tot die erf te verkry. ’n Saak van onwettige rig van ’n vuurwapen en kwaadwillige beskadiging van eiendom word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.



