Gebreekte bottels, verrotte kos, dooie troeteldiere en vuil water wat by die straat afloop, is ’n daaglikse gesig vir winkeleienaars naby Kingsstraat in die middestad van Potchefstroom.
Kingsstraat, wat tussen die eens statige Kings Hotel en die Design Square winkelkompleks verbyloop, is ’n gevaarlike, vuil straat waar duisende liters water nou al vir sowat vier maande uit ’n stukkende pyp spuit.
Volgens een van die besigheidseienaars by Design Square, Anne-Marie Botha, was die munisipaliteit al meer as een keer daar om die pyp, wat op sowat drie plekke lek, reg te maak, maar niks is uitgerig nie.

“Hulle was daar, maar het net ’n ysterpen met ’n stuk lap in die gat gedruk waar die water uitspuit. Die volgende dag het die water weer uitgespuit,” sê sy. Weens die lek is die waterdruk by die besighede langsaan ook baie swak.
Die opsigter van Design Square, Deon Coetzee, sê dat een van die wasserybesighede ’n ekstra watertenk moes laat installeer omdat die druk te swak is om hul masjiene vol te tap.
Dit is egter nie die enigste probleem wat hierdie winkeleienaars in die gesig staar nie. Kingsstraat is berug vir hoe vuil en gevaarlik dit is. Straatbewoners maak vuur en die straat word daagliks besmet met gebruikte kondome, stukkende drankbottels en selfs dooie troeteldiere.
“Daar het nou die dag ’n dooie kat voor my deur gelê en verlede week het ’n man ’n dooie hond daar kom gooi. Toe ek hom vra waarom hy dit doen, was sy antwoord dat dit reeds so sleg hier lyk en hy nie die hond op sy kleinhoewe wil weggooi nie,” sê Botha.
Sy sê die mees skokkende was toe die lyk van ’n baba in die straat gevind is. “Katte het reeds aan die baba begin eet,” sê sy.

“Dit stink ook so erg dat ons nie ons agterdeur kan oopmaak nie. Ek kry die munisipale werkers so jammer. Hulle kom maak die gemors skoon en dan lyk dit weer die volgende dag net so.”
Botha en Coetzee sê dat hulle al gevra het vir ’n drom om op die straathoek geplaas te word sodat die mense wat in die aand by die kuierplek oorkant die straat drink, hul bottels in die drom gooi. Sy sê dat sy al twee keer in die twee jaar wat sy daar werk, haar motor se band moes vervang omdat sy oor glasbottels gery het.

“Ek is ook bang dat die vure wat die straatkinders in die aand maak, die winkel agter hulle aan die brand gaan laat raak. Hulle het ’n paar aande gelede kabels gebrand om die koper uit te haal en die vlamme was so hoog dat dit byna in die winkel se venster in is.”
Hulle meen ’n moontlike oplossing sal wees om die straat toe te maak met ’n heining sodat net winkeleienaars toegang het. Teen druktyd is daar nog geen kommentaar van die stadsraad in die verband ontvang nie.
Kyk die video hier:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/video_of_the_day/video-kingsstraat-verloor-sy-kroon-tussen-waterlekke-en-rommel/



