Regstellende Aksie: Hoe benadeel dit jou?
Die VF Plus wil hê die publiek moet hul stories deel oor hoe die beleid van Regstellende Aksie (RA) teen hulle diskrimineer op grond van hul velkleur. Dié party sê pres. Cyril Ramaphosa het in repliek op die debat oor die staatsrede gesê: “Wit mense, veral wit mans, domineer steeds die senior posisies in die …
Die VF Plus wil hê die publiek moet hul stories deel oor hoe die beleid van Regstellende Aksie (RA) teen hulle diskrimineer op grond van hul velkleur.
Dié party sê pres. Cyril Ramaphosa het in repliek op die debat oor die staatsrede gesê: “Wit mense, veral wit mans, domineer steeds die senior posisies in die ekonomie.”
Volgens hulle neem, pres. Ramaphosa egter nie middelvlakposisies in ag nie en veral in die openbare sektor word gekwalifiseerde kundiges weens hul verkleur benadeel. Die gevolg is dat dienste verswak omdat RA-kriteria bo meriete in ag geneem word met aanstellings en bevorderings.
Die VF Plus sê die president het ook gereageer op hul beswaar dat RA wit mense, en veral die jeug, benadeel en hulle toegang tot beurse op grond van hul velkleur weier. Die president meen dit is onwaar en beskou nie die toenemende werkloosheid onder wit jeug as ‘n aanduiding dat RA onbillike diskriminasie bevorder nie.
Volgens hulle was pres. Ramaphosa ook verkeerd in sy aanname dat meer wit Graad 12-leerlinge matriek slaag en toegang tot tersiêre onderwys kry.
Die VF Plus sê navorsing van die Sentrum vir Transformasie in Hoër Onderwys het bevind die getal wit studente (39 344) wat aan universiteite studeer, veel minder is as byvoorbeeld swart studente (127 237).
Die VF Plus-jeug verwelkom egter die president se uitspraak in sy repliek dat die regering in gesprek moet tree met dié wat daardeur benadeel word.
Met dit in gedagte, sê die VF Plus-jeug hulle wil aan die president wys hoe daar teen gekwalifiseerde mense, en jeug wat weens hul velkleur nie beurse kan bekom nie, gediskrimineer word.
Die VF Plus sê hulle wil dié benadeeldes se verhale aan pres. Ramaphosa oorhandig, aangesien dit, volgens hulle,vir hom klaarblyklik belangrik is om met Suid-Afrika in gesprek te tree oor die brandpunte in ons land.
Diegene wat hulle verhale oor RA en onsuksesvolle beursaansoeke weens hul verkleur wil deel, kan dit op die VF Plus se Facebook– of Twitterblaaie doen en daar kommentaar lewer, of ‘n e-pos stuur na tammy@vfplus.org.za .



