
’n Man is onlangs vir twee jaar tronk toe gestuur nadat hy op twee aanklagte van diefstal skuldig bevind is.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is Kgotso Lerefolo (38) op 16 Februarie in hegtenis geneem nadat hy ’n hemp gesteel het. Hy was reeds op borgtog uit nadat hy in November verlede jaar parfuum gesteel het.

In albei voorvalle het die winkel se sekuriteit die man vasgetrek, waarna die polisie in kennis gestel is. Hy is ook in albei gevalle met die gesteelde goedere in sy besit gevang. Lerefolo is sedert 2004 skuldig bevind aan onderskeidelik diefstal, huisbraak en die besit van onwettige dwelms. Nadat hy in 2007 skuldig bevind is, is hy tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis.
“Die nuwe stasiebevelvoerder, brig. Steven Moodley, wil erkenning gee aan die goeie werk wat die ondersoekbeampte, konst. Daniels, gedoen het. Die boodskap wat brig. Moodley wil oordra is dat selfs sogenaamde klein misdaad ‘n mens in die tronk kan laat beland,” het Chaka gesê.




