
11 Maart 1921 – 15 Junie 2018
Anna van der Walt
Ons vier die lewe van ons geliefde moeder, ouma en oumagrootjie, en vir baie tannie Anna van der Walt.
Anna Maria Krause is gebore op 11 Maart 1921 op die plaas Mooifontein in Schweizer-Reneke as die jongste van sewe kinders.
Sy trou op 2 Augustus 1941 op Sannieshof met HB van der Walt. Na hulle troue woon hulle op Lichtenburg, waar hulle vier kinders, Hein, Waltia, Krause en Elma gebore is. Op Lichtenburg was sy as offisier betrokke by die Voortrekkerbeweging en sekretaresse van die Sustersverenigiing van die gemeente.

In 1956, na 14 jaar, verhuis hulle na Potchefstroom waar sy weer dien by die Voortrekkerbeweging en in komitees van die SA Vrouefederasie. Sy staan ook Vader HB by met die redding van die Potchefstoom Herald en later met die oprigting van Huis Eikelaan. Daarna help sy en Vader HB met die bou van woonstelle by Noordbrug-Oord, waar hulle ses jaar gewoon het.
Later woon hulle in Huis Eikelaan en versprei in samewerking met ‘n netwerk van helpers, bybels in gevangenisse. Meer onlangs is sy versorg in Samuel Broadbent Tehuis vir bejaardes tot met haar heengaan. Ons dank aan almal daar vir hulle liefdevolle en professionele versorging.
Ons is ook dankbaar dat sy onlangs haar verjaarsdagviering kon meemaak en ook die troue van James en Chloe in Klerksdorp. Ons prys die Here vir ‘n oorvloedige en onverdiende 97 jaar wat Hy haar vir ons beskik het.
Met min asem en baie inspanning het Ma vir oulaas gesê ‘en sê vir almal groete en baie liefde’.
Ons dank aan almal wat die seremonie met ons deel en die susters wat die verversings voorsien het.
Hein en Alna, Krause en Rolene van der Walt, Waltia en Jannie Jooste, Elma Cook, kleinkinders en agterkleinkinders.



