NewsNews

Grypdiewe neem toe in Potch sakegebied

Toenemende voorvalle van diefstal in die sentrale sakegebied het tot gevolg dat besigheidseienaars met hul hande in die hare sit. Veral James Morokastraat het die afgelope jaar ’n groot gevaargebied van misdaad geword.

Toenemende voorvalle van diefstal in die sentrale sakegebied het tot gevolg dat besigheidseienaars met hul hande in die hare sit. Veral James Morokastraat het die afgelope jaar ’n groot gevaargebied van misdaad geword.

Grypdiewe teiken op ’n daaglikse basis klante van besighede wat in die straat parkeer.

Wandré Cronjé wat by Musikland werk, sê dat hy daagliks moet toekyk hoe misdadigers handsakke of selfone gryp. Hulle ruk ook motordeure oop en gryp wat hulle kan voordat hulle in die taxi-staanplek verdwyn.

“Dit was nog nooit so erg soos nou nie. Die afgelope jaar het misdaad hier verskriklik baie toegeneem,” sê Wandré.
Hy sê waar hulle gewoonlik een keer per maand ’n voorval voor hul winkel gehad het, gebeur dit nou twee tot drie keer per dag.

Wandré sê daar is sowat tien misdadigers wat lyk asof hulle skofte neem om in die straat te loop en mense te beroof. Hy sê veral bejaardes en vroue is teikens, asook spesifiek motors met oop vensters.

“Ons ken al hulle gesigte en as ons hulle sien,probeer ons hulle wegjaag,” sê hy.

“’n Rukkie gelede het ek gesien hoe een aan ’n voertuig se ruit klap en toe gryp ’n ander een die persoon se foon by die ander venster uit. Ek het toe uitgegaan en die een ou gestorm, maar toe pluk hy ’n lang mes uit,” vertel Wandré.

Wandré het self ’n vuurwapen vir beskerming en sit heeldag binne in die winkel en kyk uit vir verdagte mense.
Hy en die eienaar van Expendables Guns and Ammo, Steven van Eeden, werk baie nou saam om hul straat te probeer beveilig.

Steven het al verskeie kere misdadigers voor sy winkel weggejaag en probeer sover as moontlik die skuldiges op kamera vasvang.

“Ons probeer, maar niks help nie. Hulle hou aan terugkom en hulle is nie meer bang om gearresteer te word nie,” sê Steven. Hy sê die misdadigers vlug gewoonlik na ’n roof na die taxi-staanplek.

“Hulle gaan trek dan net ander klere aan en oor ’n uur of so is hulle terug en reg om die volgende persoon te beroof.”
Steven sê die enigste manier om hierdie misdaad te bekamp is om die taxi-staanplek toe te bou sodat daar net een in- en uitgang is. So sal dit makliker wees om die diewe vas te trek.

“Hulle moet ook langer in die tronk gehou word, want al word hulle gearresteer, is hulle kort voor lank weer terug.

“Dit is ook tyd dat die ander besigheidseienaars begin saamwerk sodat ons aan ’n plan kan dink oor hoe ons hierdie probleem gaan oplos. Ons almal se besighede ly hieronder, aangesien mense te bang is om met ons besigheid te doen in dié onveilige straat,” sê hy.

Kyk die video hier:

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/49927/video-grypdief-james-morokastraat-op-kamera-gevang/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button