NewsNewsUpdateBreaking News

Soektog na gewapende rowers: Jongste nuus

Die polisie is steeds op soek na nog minstens twee verdagtes wat verbind word met 'n gewapende huisroof in Grimbeekpak vanoggend.

JONGSTE NUUS: (21 Julie; 9:05) Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier beskerming is vier verdagtes gister (20 Julie) in hegtenis geneem in verband met ń huisroof wat in Lupinestraat plaasgevind het.

ń Polisiebeampte en sekuriteitsbeampte is beseer tydens die soektog na die verdagtes. Volgens Haefele is die beserings gelukkig nie ernstig nie.

Die Herald het die polisie gevra om die arrestasies te bevestig. Teen tyde van publikasie kon hulle nog nie bevestig nie.

JONGSTE NUUS (15:25): ‘n Voertuig wat moontlik verband hou met dieselfde voorval is in die area naby Mooirivier Mall afgetrek. Die Herald verneem dat die voertuig moontlik ‘n wegkomvoertuig vir die rowers was. Die polisie het bevestig dat daar tot nou nog net twee rowers gearresteer is, en nie vier nie. Christiaan Heafele van Mooirivier Beskerming sê dat die slagoffers van vanoggend se huisroof slegs vier rowers gesien het en Mooirivier Beskerming se reaksielede het net drie sien weghardloop. Die polisie is steeds op soek na minstens een rower.

JONGSTE NUUS (14:27): Prokureur Willie Jordaan het laat weet dat daar al ‘n totaal van vier verdagtes gearresteer is. Die polisie is nog op soek na twee.

JONGSTE NUUS (13:40): Die Herald verneem dat nog ‘n rower vasgetrek is. Hy is vroeër in ‘n huis in Jeugstraat gevind waarna hy agterna gesit en in Olivierstraat gearresteer is. Die Herald verneem dat daar skote afgevuur is, en ‘n polisieman gewond is.

JONGSTE NUUS (13:14): Gerugte dat twee verdagtes gearresteer is, is verkeerd. Die Herald het pas met lt. kol. Amanda Funani by die provinsiale polisie gepraat. Sy het bevestig dat nog net een verdagte vir huisroof gearresteer is. Die verdagte (38) is tans in Potchefstroom hospitaal en sal Maandag in die hof verskyn. Hy het juwele en ‘n selfoon in sy besitting gehad. Die polisie soek steeds na die res van die rowers.

JONGSTE NUUS (13:00): Mense wat van Olivierstraat van die hoek van Jeugdstraat na die suide van die stad toe woon, word gevra om hul erwe te kom oopmaak sodat die erwe deursoek kan word. ‘n Verdagte is glo in ‘n erf in Jeugdstraat gevind, maar het gevlug nadat skote afgevuur is. Die verdagte het ‘n blou denim en grys hemp aan.

JONGSTE NUUS: Inwoner Willie Jordaan het pas laat weet dat daar ‘n verdagte in ‘n erf in Jeugdstraat opgemerk is. Die polisie is ook steeds op soek na minstens twee rowers. Die Herald kon nog nie bevestig of die verdagte een van die rowers is nie.

JONGSTE NUUS: Volgens Christiaan Haefele van Mooirivier Beskerming is die polisie steeds op soek na minstens twee verdagtes wat in die omgewing van Girl’s High rondbeweeg. Daar is ook bloed gekry in Olivierstraat en daar word vermoed dat dit van die beseerde verdagte is. Haefele sê dat dit nie lyk asof daar ‘n spoor is nie.

JONGSTE NUUS: Volgens ‘n woordvoerder van die polisie Kapt. Chaka is nog ‘n rower gearresteer toe hy oor ‘n elektriese heining probeer klim het. Die rower is beseer en die polisie het hom hopsitaal toe geneem.

Die polisie is tans op soek na sowat vyf voortvlugtende gewapende rowers wat vroeg vanoggend ʼn huis in Lupinestraat probeer beroof het.

Mooirivier Beskerming het op hulle afgekom en ʼn skietery het kort daarna ontstaan. Tans is die inligting dat een van die rowers raakgeskiet is.

Sover vasgestel kon word het die rowers oor die gholfbaan in ʼn westelike rigting gevlug. ʼn Skietery het kort daarna in Rivierstraat plaasgevind. (Luister ʼn stemboodskap van iemand in Rivierstraat.)

Vermoedelik een van die verdagtes is op 'n sekuriteitskamera afgeneem waar hy deur iemand se erf loop. FOTO: Verskaf
Vermoedelik een van die verdagtes is vroeg vanoggend op ‘n sekuriteitskamera afgeneem waar hy deur iemand se erf in Olivierstraat loop. FOTO: Verskaf

Die polisie is tans in die suidekant van Potchefstroom op soek na die verdagtes. Nuwe inligting op sosiale media is dat die polisie nou in die omgewing van Girl’s High is. Sover bekend is een van die rowers reeds gearresteer. ʼn Speelgoedwapen is ook in ʼn erf opgetel wat vermoedelik deur een van die rowers daar weggegooi is.

Op sosiale media is daar tans deurlopend berigte dat die rowers in verskillende strate gesien is. Mense word ook gewaarsku om nie die rowers te konfronteer nie. Die polisie fynkam die hele omgewing, ook met behulp van ʼn helikopter en ʼn hommeltuig.

Die volgende strate moet vermy word: Rivierstraat, Meadowstraat, Olivierstraat, Smitstraat en die are rondom die gholfbaan.

ʼn Inwoner Willie Jordaan het in ʼn stemboodskap gevra dat mense op die uitkyk moet wees veral in die area tussen Rivierstraat en Peter Mokabastraat sowel as Smitstraat en Jeugstraat.

“As julle by die huis is, kyk maar deur die vensters. Moenie konfronteer nie die mense is gewapen.”

Soos wat die storie ontwikkel sal die Herald verder berig.

Luister: Iemand het vanoggend hierdie stemboodskap oor die voorval gestuur.

Luister: ‘n Oogetuie het een van die verdagtes so beskryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button