
Vier mense is vanoggend (30 Julie) beseer nadat ‘n vragmotor en ‘n kombi op die hoek van die N12 Nelson Mandelaweg en MC Roode-Rylaan gebots het.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici omstreeks 07:30 op die toneel gekom. Die bestuurder van die kombi was binne die voertuig vasgevang.

Potchefstroomse brandweerdienste was op die toneel om die man uit die kombi te bevry. Hy het matige beserings opgedoen.
Meiring sê dat daar nog drie mense, waarvan twee kinders, ook matige beserings tydens die ongeluk opgedoen het. ER24 het die mense hospitaal toe geneem vir verdere behandeling. Die bestuurder van die vragmotor het geen beserings opgedoen nie.
Polisie was op die toneel om verdere ondersoek in te stel.



