Drie kinders tussen die ouderdomme van 14 en 17 jaar is dood toe ‘n brug vanoggend by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort het.

Die Herald kon intussen net drie sterftes bevestig, en nie vier soos voorheen berig nie. Volgens Netcare 911 woordvoerder Shawn Herbst het paramedici vanoggend by die toneel gekom waar ‘n voetoorgang-brug wat tussen twee geboue was, ineengestort en op talle kinders onder geval het.

Vyf mense is ernstig beseer en sowat 10 ander het matige tot ligte beserings opgedoen. Vier van die ernstig beseerdes is per helikopter na ‘n hospitaal toe geneem. Die res is met ambulanse na verskeie hospitale geneem.

Hoewel die oorsaak van die brug se ineenstorting nog onbekend is, het ‘n kenner by die skool aan Netwerk24 gesê die brug het deurgeroes.




