Fase 1 van die “Neem Terug die Bult”-projek van die Cachetpark CID MSW – ’n gesamentlike onderneming tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en die JB Marks Munisipaliteit – is afgehandel.’n Totaal van 18 beoogde CCTV-kameras in die afgebakende Bult-gebied is geïnstalleer en die gebied is nou onder 24-uur-observasie.
Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier van die Potchefstroomkampus en die voorsitter van die direksie van die Cachetpark CID, het sy waardering uitgespreek en die organisasie gelukgewens dat fase 1 voltooi is.
“’n Algehele aanslag teen misdaad is nou in volle swang om studente se veiligheid te verseker, en die Bult sal nie meer ’n veilige toevlugsoord vir misdadigers wees nie,” sê prof Balia.
Die omvang van die sekuriteitsdienste wat die organisasie verskaf, sluit ook in die monitering van bekende verdagtes, beter beligting in afgebakende gebiede, sigbare polisiëring, gesamentlike bedrywighede tussen die gemeenskapspolisiëringsforums en die polisie, optimale sekuriteitsbenutting van die pas opgerigte sekuriteitsentrum in Cachetpark, misdaadvoorkomingsaktiwiteite, en die verskaffing van primêre gewapende reaksie.
Die NWU is vasberade om sy studente veilig te hou – op en weg van die kampus. Die universiteit sien uit na die volgende fase van die projek.



