Minder rondloper diere by PAWS
Sedert die nasionale staat van inperking is daar baie minder rondloper diere, want hulle eienaars is by die huis.
“Sedert die nasionale staat van inperking is daar baie minder rondloper diere, want hulle eienaars is by die huis en hulle het dus nie nodig om rond te loop nie.” So sê Herman van der Sluis, die bestuurder van PAWS.
Hoewel die diere by PAWS ook hulle staat van inperking moet verduur en nie meer deur die publiek bederf kan word met uitstappies nie, het alles darem nie by dié dierewylsynsorganisasie tot stilstand gekom nie.
Volgens Herman is die veearts steeds beskikbaar vir nooddienste en mense wat hulle rondloper diere wil opeis, kan dit steeds tussen 15:00 en 16:00 elke dag doen. Dit is belangrik dat hulle eers vooraf die noodnommer, 084 501 8668, skakel om ‘n afpsraak vir die opeising te maak.

“Ons het vyf wonderlike personeellede – Isak Nfiki, Etienne Jansen van Vuuren, Samuel Ntanjana, Lloyed Mosala en Raymond Sithole – wat op die terrein slaap om die diere kos en water te gee en hulle hokke skoon te maak,” sê Herman.
“Ons doen ook ‘n beroep op mense wat rondloper diere sien, om hulle na PAWS te bring. Hulle moet die diere in die noodhokke net buite PAWS plaas en daarna die bogenoemde noodnommer skakel. Die werkers sal die diere daarna opneem en die nodige inskrywings in die registers maak. Met die winter om die draai, kan diereliefhebbers steeds betrokke wees deur veral komberse aan PAWS te skenk. Kos vir honde en katte, asook katsand is van die items wat baie welkom is. Skenkers kan die donasies alles in die noodhokke plaas en slegs die noodnommers skakel sodat die werkers dit kan gaan haal.




