
Paasboodskap deur ds. Manus Visagie
Volgens verskeie bronne bevind tussen 20 en 30 persent van die wêreld se populasie hulself tans in een of ander vorm van inperking weens die gevolge van COVID-19. Wêreldwyd word daar die komende naweek (10-12 April) Paasfees gevier, deur gelowiges sowel as ongelowiges.
Weens die ontwrigtende gevolge van die COVID-19 virus, bestaan daar geen twyfel dat die Paasfees van 2020, wêreldwyd ’n buitengewone Paasfees gaan wees nie. Gelowiges én talle Christelike denominasies moet buite die spreekwoordelike boks dink om uiteindelik die viering van Paasfees moontlik te maak, veral omdat die viering van Paasfees hand-aan-hand loop met die viering van die Nagmaal in soveel kerke.
Nagmaal is nié ’n private aangeleentheid nie, maar tog sinoniem met Paasfees. Hoe nou gemaak? Dít is onder andere één van die dinge waarmee soveel leraars besig is hierdie week – om Paasfees én die viering van Nagmaal, aan huis van elke lidmaat, te laat realiseer.

Midde die ongemak van die inperking wat elke Suid-Afrikaner en ander in die wêreld tans beleef, kan ek nie help om dít wat ons nou moet beleef, in lyn met die Paasfees op Golgota te bring nie. Veral in die lig van die naderende Paasfees.
Ons lees in die Evangelies dat die Jode, Jesus én Sy Dissipels, aan die vooraand van die Paasfees was, soos beskryf word in Eksodus 12. ’n Baie belangrike fees wat hulle aan God se verlossing uit Egipte herinner het. Só belangrik dat almal van oral heen na Jerusalem gereis het om die fees dáár te vier. Min het hulle geweet dat húlle Paasfees ook ontwrig sou word – maak nie saak aan watter kant jy jouself bevind het nie.
Dié wat volgelinge van Jesus was, of te wel Sy dissipels, het nie geweet wat sou kom nie en ook dié wat teen Hom was, het nie geweet van die klimaks wat hulle veldtog téén Hom sou bereik nie. Dus was die gebeure, naamlik die kruisiging van Jesus, ’n dag vóór die Joodse Paasfees, vir almal nie net ongemaklik nie, maar ook ontwrigtend en ’n ontnugtering.
Sy dissipels het uitmekaargespat, sommige het Hom verraai, ander het Hom verloën – die enigste Hoop wat hulle gehad het, is opgehang teen ’n kruis, dood! Vir dié wat téén Hom was, was dit net so ontwrigtend, want hulle kon Hom nie sien vir wié Hy was nie, nie terwyl Hy gelewe het nie en ook nie na Sy dood nie. Dit was ’n Romeinse soldaat, een van dié wat gehelp het om Hom te kruisig, wat getuig het: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Hoewel ons betreklik min besonderhede het oor hoe daardie volgende dag verloop het, is ek oortuig daarvan dat die nié die aangenaamste Paasfees in die Joodse geskiedenis was nie. Maar juis daardie ‘onaangename’ Paasfees het ál die verandering teweeggebring. Want die ontmoeting en getuienis van die vroue (Maria Magdalena, Johanna en Maria, die ma van Jakobus) daardie Sondagoggend, is die boodskap wat vir my en jou hoop en bemoediging moet gee.
Al is die Paasfees van 2020, wêreldwyd, ’n buitengewone Paasfees in afsondering. Al moes die Pous in ‘n leë St. Pieters-katedraal in Rome, die Groot Lydensweek in aanloop tot Paasfees open. Al moet elke denominasie en leraar in dié tyd alle kreatiewe bronne benut om Paasfees 2020 in elke leser se huis te laat realiseer, mag ons nóóit, midde al hierdie ‘ongemak’ en ‘ontwrigting’, die ware betekenis van Paasfees en die opstanding van Jesus Christus uit die dood, uit die oog verloor nie. Hy het rééds die duurste prys vir ons kom betaal! Hy het rééds die grootste ontwrigting kom dra. Hy het daardeur vir elkeen van ons hoop gegee, hoop vir die dag van môre.
Dit is in tye soos dié dat sekere geykte uitdrukkings weer nuwe betekenis kry. Dit is in tye soos dié dat daardie ou bekende liedjie, wat so lekker gesing het, weer nuwe betekenis kry. Because He lives (Gloria Gaither, William J. (Bill) Gaither, 1960-70) is tans op sosiale media onder andere één van die liedere wat mense bemoedig, omdat dit ’n lied is wat in ons huidige situasie en omstandighede, nuwe betekenis gekry het, omdat die refrein van hierdie lied, juis dít beklemtoon waaroor Paasfees gaan – Because He lives, I can face tomorrow.
Mý wens vir u as leser – mag hierdie buitengewone Paasfees u dan ook daartoe lei, tot ‘n buitengewone ontdekking ín Christus. Onthou dan veral ook die woorde van 1 Petrus 1:3-7:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.
-Manus Visagie-



