Twee verkeersbeamptes is Woensdag, 15 April gearresteer nadat hulle onwettig drank gekoop het. Die drankhandelaar word ook vir die verkoop van die drank aangekla.
Volgens die Rampbestuurswet onder die huidige nasionale inperk regulasies is dit onwettig om drank te koop en te verkoop.
Die drie beskuldigdes het Donderdag, 16 April in die Potchefstroomse Landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle moet weer op Dinsdag, 19 Mei in die hof verskyn.
Die munisipaliteit het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle ‘n beroep doen op die gemeenskap om die reëls en regulasies tydens die inperkperiode te gehoorsaam: “Ons hoop dat dit ‘n voorbeeld vir almal sal wees om die regulasies ernstig op te neem. Die munisipaliteit verafsku enige vorm van wangedrag en kriminele optrede deur hulle eie werknemers of lede van die publiek”, het William Maphosa, die woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.




