
Vier mans is op 11 April omstreeks 23:00 aan die polisie oorhandig nadat voorwerpe wat tipies in huisbrake gebruik word in hulle besit gevind was.
Volgens ‘n verklaring van die Cachetpark CID, is die mans op die treinspoor onder die Meyerstraatbrug gesien waarna Mooirivier Beskerming reaksiebeamptes gestuur het om ondersoek in te stel. Die man is voorgekeer en deursoek waarna die voorwerpe, inlsuitend messe, skroewedraaiers en tange in hulle besit gevind is. Die mans is aan die polisie oorhandig waarna hulle aangekla sal word.
“Dit het duidelik geword dat kriminele aktiwiteit in die groter Bult Area toeneem wanneer ander gewone aktiwiteite afneem. Daarom is vakansietye (en nou die grendeltyd) ʼn bekommernis. Kamera-monitering is dus ʼn kardinale element in die werking van Cachet Park CID. Dit stel ons in staat om potensiële kriminele en verdagte gedrag te identifiseer en spoedig daarop te reageer. Te danke aan die 24/7 gewapende reaksie en kamera-monitering, was moontlike kriminele aksies voorkom en vier, waarskynlik kriminele, aan die polisie oorhandig. Met verdere ondersoek kan hulle ook moontlik aan vorige sake verbind word,” lui die verklaring van die CID.




