
Vir die meeste mense het die president se aankondiging van die grendeltyd waarskynlik gevoel na iets uit ‘n Hollywood film.
Dit het verseker gepaard gegaan met ongeloof en baie onsekerheid en toe die werklikheid begin insink, waarskynlik ook vrees – nie net vir siek word nie, maar ook die finansiële implikasies.
Tydens die grendeltyd het baie persone hulle inkomste (uit besighede en verdien as salaris) verloor of salarisse is verminder. Daar was ook al werksverliese. Dit is die eerste probleem waarmee baie individue stoei. In die lig hiervan is dit dalk nou ‘n goeie tyd om jou eie loopbaan weer in oënskou te neem en te beplan. Vra jouself af of jy nog op regte pad is en die regte ondervinding en kwalifikasies het. Kyk ook rond vir nuwe geleenthede wat nou aanlyn na vore kom. Oorweeg ook hoe jy jou risiko aan inkomste in die toekoms kan versprei deur meer as een inkomstebron te hê.
Die grendeltyd het waarskynlik ook enkele besparings meegebring. Jy ry minder, kan nie uiteet, wegneem etes of koffie koop nie en spaar sommer op ‘n haarsny en klerasie. Dit sou goed wees om nie die besparing nou op lekkernye ens. te spandeer nie. Wend dit aan waar jou inkomste verminder het of begin jou noodfonds daarmee. Waarop jy egter nie moet sny nie is jou mediese fonds bydraes en versekering. Dit is gewoonlik in ‘n krisis wat jy dit die nodigste het. Sou jou versekering verval mag dit nodig wees om weer vir mediese toetse te gaan en moontlik is jy nie meer soos gesond of jonk soos voorheen nie. Kontak eerder jou makelaar of adviseur en hoor watter premieverligting jou versekeraar bewillig het. Dieselfde geld vir jou uittreeannuïteit fonds bydraes. Baie versekeraars bied premie vakansies as jy vooraf reël, sonder dat jy gepenaliseer word met kostes. Sommige korttermyn versekeraars bied ook toegewings indien jy nie kan betaal nie, vind dus uit, moet nie die polis net laat verval nie.
Een van jou grootste uitgawes is waarskynlik huur vir jou eiendom. Kontak die eienaar vooraf en tref ‘n reëling. Meeste eienaars sal bereid wees om jou te gemoed te kom met ‘n kleiner huur paaiement nou, wat jy weer later kan inhaal. Dit geld ook vir jou rekeninge en skuld. Meeste finansiële instellings besef dat persone en klein besighede onder druk is. Kontak dus jou bank en vind uit watter opsies en verligting daar moontlik vir jou beskikbaar is. Die gevolg van al die stappe is egter dat jou skuldposisie ná die grendeltyd waarskynlik sou verswak het. Administrasie en sekwestrasie is baie duur opsies, probeer dit dus eerder vermy. Begin dus ‘n begroting opstel en kyk of en hoe jy jou skuld sal kan terugbetaal. Indien nodig oorweeg die dienste van jou adviseur of ‘n skuldberader en praat met jou skuldeisers. Dit mag dalk voordelig wees om van jou skuld te konsolideer.
Ons beleggings het ook nie ongedeerd daarvan afgekom nie. Beleggings met aandele blootstelling het groot verliese gelei.
Die reël is egter tyd in die mark en om nie te oorreageer nie. Die JSE-algehele indeks het teen middel Maart ongeveer 30% gedaal. Persone wat toe verkoop het, sou uitgemis het op die ongeveer 20% herstel van daardie punt af. Dit is dalk ook tyd om te kyk na jou kontant beleggings met rentekoerse wat al met 2.5% die afgelope jaar gedaal het tot ‘n historiese laagtepunt van die repo-koers van 4.25%. Dit is darem nog in lyn met inflasie, maar as jy van die rente leef, word jou geld al minder werd. Kontak jou bank en adviseur oor ander opsies wat beskikbaar is. Dink net voor jy nou beleggings teen lae rentekoerse vasmaak vir ‘n lang periode. Indien jy inkomste uit jou beleggings neem, mag dit nodig wees om dit tydelik te verminder omdat jou beleggings se waarde verminder het en jy nie jou kapitaal wil uitput nie.
Ten einde ons kliënte by te staan het Jenwil Blouster ons eie aanlyn akademie gestig om waardevolle finansiële inligting te deel. Daar is geen koste nie, en enige persoon kan registreer by https://jenwil-bluestar-academy.teachable.com/. Daar is sessie oor Covid-19 en jou belegging, Covid-19 en jou polisse asook “Life after Covid-19” met sprekers soos Theo Venter en dr. Roelof Botha. Ons moes ongelukkig ook ons “Retirement from Public Service” en Aftreekongres weens die grendeltyd kanselleer. Ons bied egter vanaf 27 April tot 30 April, daagliks om 11:00 ons Aftreekongres in sessies aanlyn aan. Bespreek gerus by https://mailchi.mp/jenwil/aftree2020 of stuur ‘n e-pos na potch@jenwil.co.za. Jy kan ook vir Susan skakel by 082 048 6309.
Die artikel is nie bedoel om finansiële advies te gee nie, kontak altyd jou makelaar of finansiële adviseur.



