Gebore: 18 Augustus 1941
Oorlede: 19 Julie 2020
Pastoor Hennie du Preez, bekende en geliefde pastoor van die stad, is op 19 Julie oorlede.
Hy en sy vrou, mev. Pop du Preez, het op 9 Maart 1974 die beroep na die Pinkster Protestante Kerk (PPK) Potchefstroom vanaf die Lydenburg-gemeente aanvaar.
Hy het die gemeente tot met sy afsterwe vir byna 47 jaar bedien. Dit was vanjaar ook hulle 50ste jaar in die bediening. ‘n Paar jaar gelede is daar ‘n nie-amptelike studie gedoen en daarvolgens was pastoor Hennie en sy vrou die langsdienende aaneenlopende predikantspaar in een gemeente in enige kerk in Suid-Afrika.
Hy het deur die jare baie paartjies getrou, persone begrawe en ‘n geweldige impak in Potchefstroom en die gemeenskap gemaak. Hy het die pastorie in Spruitstraat in 1976 self gebou.
Hy het op ‘n persoonlike vlak lewenslange vriendskappe met mense van Potchefstroom en die omgewing gebou, persone wat nie noodwendig lede van sy gemeente of kerk was nie.
Hy het ook kort na sy aankoms in Potchefstroom as kapelaan by die Suid Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) begin diens doen. Dit het hom baie na aan die hart gelê en daarvan kan baie soldate getuig. Hy het ook tot ‘n paar jaar gelede in die SA Kapelaanskommissie gedien. Hy was vir etlike jare en verskeie geleenthede voorsitter van die Wes-Transvaal/Noordwes-distrik van die PPK. Hy sal onthou word vir sy onuitblusbare liefde vir die werk van die Here, standvastige persoonlikheid, goedhartigheid, somtyds tot sy eie nadeel, liefde vir sy medemens, liefde vir sport en sy heerlike humorsin. Hy sal in sy laaste jare onthou word as ‘n ware brugbouer tussen kerke. Hy het dit vermag deur verskeie gemeentes van verskeie denominasies in Potchefstroom en die distrik te verenig en te laat saamwerk. Hy het die goeie stryd gestry en die wedloop voleindig. Hy word oorleef deur sy vrou, kinders Denise, Desmond, Lynette, Karen en Henk, vyf skoonkinders, 12 kleinkinders en twee agterkleinkinders.



