Lizz Meiring gaan op 26 Augustus saam diere in Paws se hokke oornag
Haal 'n R20 uit jou sak en help vir Lizz Meiring om Paws te red.
Deurdringende kyke van diere in PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) se hokke is iets wat elke dag te voorskyn kom.
Hierdie diere het liefde en huise nodig, maar hul het nie ‘n stem om wonderwerke te laat gebeur nie.

Potchefstromers kan daardie stem vir honderde diere by Paws gee met ‘n skenking van slegs R20 of meer vir Projek Paws, ‘n projek wat die bekende aktrise Lizz Meiring saam met Paws in Augustus loods.
Meiring gaan op Woensdag 26 Augustus in een van Paws se hokke saam met die diere slaap nadat daar alreeds meer as R 20 000 in Julie ingesamel is. Meiring en Paws het einde Julie as deel van Projek Paws die publiek uitgedaag om meer as R 10 000 in te samel. As dit gebeur sal sy een aand in ‘n hok deurbring.
“Ek doen graag nou my deel vir die diere in Potchefstroom. Die probleem is dat ek dalk na ek in ‘n hok gaan slaap het al die diere by Paws saam my sal wil huis toe vat.
Die terugvoer was nog net goed gewees en ek hoop dat die hele Potchefstroom sal bydrae om Paws se nood te verlig. Paws kan nie meer gholfdae aanbied of ander fondinsamelingsprojekte weens die lockdown doen nie. Hierdie fondsinsameling is baie na aan my hart,” het Meiring genoem.
Sy het ook genoem dat Paws baie bystand nodig het, veral met die bakkie aangesien die voertuig baie herstelwerk nodig het.
“As elke besigheid, instansie, kerk, universiteitskoshuis en nog meer net R20 kan skenk sal dit alreeds ‘n groot verskil maak. Ek het ‘n vriend en skrywer wat in Potch woon, Jak Brits, wat my regterhand sal wees om die projek verder te voer en geld by besighede ook sal insamel,” noem sy.

Dit is maar net een van die vele fondsinsamelings-inisiatiewe op die kalender vir Meiring om met Paws se finansiele nood te help en nou wil sy dit nog verder vat.
“Op 26 Augustus beplan ons ook dat fotograwe ook foto’s van mense en hul diere neem en die geld wat ingesamel word vir Paws sal skenk. Verder gaan ons saam met Tjhoko Paint ook ‘n verf werkswinkel aanbied om geld vir Paws in te samel,” noem sy.


Nog ‘n inisiatief is om die gemeenskap betrokke te kry om kat en hondekoekies met ‘n goedgekeurde resep te bak waarvan ‘n deel verkoop kan word en ‘n ander deel vir die diere by Paws gegee kan word.
“Daar is ook ‘n groot nood vir komberse en warm beddegoed vir die diertjies. So enige skenkings sal baie welkom wees,” voeg Meiring by.
Meiring het ‘n groot hart vir diere en het selfs ‘n hondjie, Volpina, by Paws so paar jaar gelede aangeneem.
“Ek het die hondjie Volpina genoem wat Italiaans vir Wolfmeisie is. Daar is ‘n karakter in die Federico Fellini rolprent Amarcort met die naam Volpina en dit is waar haar naam vandaan kom. Sy het die oulikste gesiggie,” vertel sy.

Buster is ook een van Meiring se aanneem honde en die een het self ook ‘n blog, wat nou al so bekend is dat mense geskenke vir Meiring stuur om vir Buster te gee.
“Ek kry nou al biltong en geborduurde sakkies by mense.”
“My vriende het al grappe gemaak en gesê dat hul nie geweet het dit gaan so sleg dat ek in ‘n hok moet gaan slaap nie! Van hulle vra of ek ook verse vir die diere gaan opsê” lag Meiring. Ek is ‘n raadslid by die Teater Bystand Fonds en die mede raadslede spot en sê alhoewel dit ons streng beleid is om nooit mede raadslede in nood te mag help nie, moet hul dalk hier ‘n uitsondering maak,” noem sy spottend verder.
Bowenal gaan dit vir Meiring oor die diere en om hulle lewenskwaliteit te verbeter – sy is maar net ‘n voertuig vir hierdie verandering om te begin.

Jak Brits noem ook dat daar talle langtermynprojekte in die pyplyn is om PAWS se nood te verlig en vra dat die plaaslike gemeenskap hulle harte sal oopmaak.
“Ek weet van ‘n paar besighede wat alreeds betrokke is. My doel is om die privaatbesighede en ander besighede ook aanboord te kry. PAWS is die enigste nie winsgewende organisasie vir diere in die omgewing en hulle het hulp broodnodig.”
Kontak vir Jak Brits by 072 905 1356 vir meer inligting en om deel te word van Projek Paws.
Donasies vir Paws kan in die volgende rekening inbetaal word:
PAWS
Nedbank
Rekeningnommer: 1120 758 521
Tak: Potchefstroom
Takkode: 198 765



