Mnr. Rock and Roll skep tuiste vir musiek in Potch
Een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy nog musiekoptredes kan geniet, is in Potchefstroom.
Een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy nog musiekoptredes kan geniet, is in Potchefstroom.
Texas Rock Bar is een van die enkele plekke wat nog live musiek aanbied, hoewel baie streng regulasies soos die dra van maskers en ’n beperkte gehoor in plek is.
Dié kuierplek het die afgelope paar jaar in samewerking met Jou Ma se Potch, op Dinsdagaande ’n tuiste vir regstreekse, alternatiewe, plaaslike musiek geskep.
Jou Ma se Potch het as ’n platform begin vir plaaslike kunstenaars om hulle musiek ten toon te stel.
Jonathan Wayne, eienaar van Texas Rock Bar, het vir hierdie platform ’n tuiste gegee.
Dit is nie eintlik vreemd dat Rock and Roll deur Wayne in Potch aan die lewe gehou word nie.
Met die intrapslag van my besoek aan Texas, soos almal dit ken, hoor ek Folsom Prison Blues speel.
Ek en my Johnny Cash T-hemp voel dadelik tuis. Stap jy in Wayne se kantoor in, sien jy die Pantera, Slayer en Nirvana plakkate teen die muur.
Dit is duidelik dat Rock and Roll onlosmaaklik deel van dié man se lewe is.
“Ek kom oorspronklik van Johannesburg af, maar het ’n paar keer Potch toe gery om ‘shows’ te kom kyk. Die ‘vibe’ hier was net lekker gewees. Jy kon op die Bult loop en ’n klomp ‘bands’ gaan kyk het.
Dit het bietjie verander, ons probeer maar daardie ‘vibe’ laat herleef,” vertel hy.
Volgens Wayne kom hy uit wat hy die MK era noem. MK was ’n populêre kanaal wat veral vir alternatiewe Afrikaanse musiek ’n platform gebied het.
“Noudat MK nie meer bestaan nie, is dit asof daar ’n leemte is. Dit is baie sleg, want daar het baie goeie musikante deur die platform blootstelling gekry.
Wayne het selfs ’n potgooi, ‘Die baarde raak nostalgies,’ begin waar hy en Louis Janse van Rensburg oor die MK era gesels.
“Dit is goed vir die gemeenskap om plaaslike mense te ondersteun. Ons het al groot vertonings gehou, Spoegwolf se eerste vertoning in Potch was by Texas. Maar saam met die goeie span van Jou Ma se Potch probeer ons plaaslike kunstenaars ’n kans gee.
“Dit is soos plaaslike besighede wat mekaar ondersteun,” verduidelik hy.
Hy verduidelik dat dit darem ook nie heeltemal ’n ‘open mic-aand’ op Dinsdae is nie.
“Die kunstenaar moet darem ook in die ‘vibe’ pas, wat Rock and Roll is.
“Ons wil ook kunstenaars hê wat darem ook hulle eie musiek maak en nie net ander musikante se musiek sing nie. So daar is ’n bietjie van ’n proses,” vertel Wayne.
Potchefstroom se eie Mnr. Rock and Roll maak seker Potchefstromers word vermaak, veral in ’n tyd wat die kunste broodnodig is. Hoewel dit ’n baie moeilike aanpassing is om die tipe vertonings te doen met al die regulasies wat in plek is weens die Covid-19 pandemie, was dit nooit vir Wayne eers ’n kwessie nie.
Daarom was die Dinsdagaand, Jou Ma se Potch vertonings by Texas een van die eerste en steeds van die min wat optredes hou.
“Sodra ons kon het ons dadelik weer met die musiek begin.
Ons sal nie gaan lê nie.
Ons het so ‘n bietjie van ’n Pitbull-mentaliteit wat dit aanbetref,” vertel hy.




