Die #ProPotch Pothole Projek is deur die Potchefstroom Sakekamer, J,B. Marks Plaaslike Munisipaliteit en die ALS Groep Suid-Afrika geloods vir diegene wat moeg is vir slaggate en Potchefstroom se infrastruktuur wil opknap. Hulle mik om in 100 werksdae Potchefstroom se hoofroetes slaggatvry te maak.
Die projek beloop sowat R1 miljoen. Dit kos sowat R500 om ‘n slaggat van een vierkante meter te herstel.

“Sonder die ondersteuning en betrokkenheid van die gemeenskap kan hierdie projek nie suksesvol wees nie. Daarom doen die Sakekamer en die betrokke belanghebbendes ‘n beroep op elke gemeenskapslid en organisasie om by te dra tot die vooruitgang en herstel van ons besonderse stad. As ons nie nou ingryp en begin om ons paaie te herstel nie, gaan dit te laat wees. Dit is nou of nooit,” sê Juanita Greyling, ondervoorsitter van die Potchefstroom Sakekamer.
Die projek het vanjaar amptelik op 23 Maart afgeskop en teen die einde van die tweede werksweek was 220 slaggate reeds gevul en sowat R200 000 ingesamel.

Die bedrag van R1 miljoen gaan gelykop verdeel word tussen die vyf hoofweë wat alfabeties benoem is, sodat donateurs geld kan skenk vir die herstel van ‘n spesifieke roete.
Die roetes is as volg: A: Parys-pad, B: N12, C: Viljoenskroon-pad, D: Carletonville-pad, E: Ventersdorp-pad. Die Viljoenskroon-pad is tans die voorloper met sowat R70 000 reeds ingesamel vir dié pad se herstel. Jonathan Baron, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer, noem dat die Sakekamer Potchefstroom wil ophef deur die #ProPotch Pothole Projek: “Ons as Sakekamer streef daarna om ekonomiese welvaart in Potchefstroom te verseker. Daarom is die infrastruktuur en estetiese beeld van die stad van kardinale belang vir sakelede. Dit is tyd om ons visie vir ons stad ‘n werklikheid te maak en hierdie gesamentlike projek is een van vele ander wat nóg uitgevoer gaan word. Die #ProPotch Pothole Projek is in volle gang en tot dusver kan ons net die gemeenskap bedank vir hul bereidwilligheid om saam te staan en ‘n groter verskil te maak. Ons wil graag hê dat elke gemeenskapslid sal trots voel op ons stad.”

#ProPotch Pothole Projek word deur die Sakekamer bedryf en alle fondse word ook deur die Sakekamer bestuur om te verseker dat die ALS Groep die befondsing kry wat dit moontlik maak om die werk op grondvlak uit te voer. Die Sakekamer behartig die bemarking van die projek om fondse te werf en het ook met die munisipaliteit onderhandel om toestemming te kry om aan die paaie te werk.
Die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit verskaf om die beurt weer herstelmateriaal. Raadslid Kgotso Khumalo, burgemeester van J.B. Marks Munisipaliteit, was teenwoordig toe van die eerste slaggate reggemaak is. Rdl Khumalo het genoem dat die munisipaliteit baie opgewonde is oor die projek.
“Ons glo die projek gaan ons infrastruktuur aansienlik verbeter en ons bied die hulpbronne, tyd, personeel en gereedskap om seker te maak dat die projek suksesvol is,” sê Khumalo. “Ons is baie opgewonde oor die projek en ons aanvaar die uitdaging om die hoofroetes van Potchefstroom binne 100 dae slaggatvry te kry!” sê Johan van Rensburg, direkteur van die ALS Groep en ‘n bestuurslid van die Potchefstroom Sakekamer. Ten spyte van die enorme taak wat nog vir die Potchefstroom Sakekamer, J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit en die ALS Groep voorlê, pak hulle die projek met dié skerpsinnige slagspreuk aan: “Gatvol vir slaggate? Maak ’n gat vol!”
Die nuutste verwikkelinge en inligting oor die vordering van die projek is beskikbaar op die Potchefstroom Sakekamer se sosiale media blaaie.
Donasies kan in die volgende bankrekening gemaak word: Rekeningnaam: Potch Tlokwe Sakekamer Projekte Bank: Nedbank Tjekrekening Takkode: 198765 Rekeningnommer: 120 166 3342 Verwysing: Pothole + Voorletters/van/besigheid naam + roete A/B/C/D/E. Vir navrae kontak Johan Janse van Rensburg by 082 450 0452 of Jonathan Baron by 084 506 3706




